Nooddienstewerkers vereer
Hulle nooddienstaak is meer as net 'n werk. Dit is 'n passie.
POLOKWANE – Hulle nooddienstaak is meer as net ‘n werk. Dit is ‘n passie.
Só vertel Gerhard Jacobs en Mariet Botha wie onlangs vereer is met sertifikate om hulle te bedank vir die belangrike taak wat hulle daagliks verrig. Gerhard en Mariet is beide paramedikuste by ER24. Gerhard het sy sertifikaat gekry vir 10 jaar diens en Mariet vir vyf jaar.
“Ek het nie verwag om die sertifikaat te kry nie, maar dit is heerlik om te weet ons werk word erken. Ek wou eers ‘n dokter word, maar dinge het anders uitgewerk en ek het lank vir die departement van justisie gewerk. Toe op ‘n dag het ek my CV vir Hannes Hatting van ER24 gefaks. Ek is in 2009 in diens geneem en ek het nog nie een dag teruggekyk nie,” vertel Mariet.
Volgens Gerhard het sy loopbaan bietjie anders verloop.Hy en sy broer het by die brandweer as vrywilligers gewerk en in 1998 het hy sy eerste kursus vir paramedici gedoen. Die lewe het hom egter ‘n paar draaie laat loop voor hy in 2004 by ER24 aangesluit het.
“Dis nie altyd maklike werk nie. Die slegste is om ‘n kind by ‘n ongeluk dood te verklaar. Eintlik enige mens. Of wanneer die kinders oorleef, maar hulle ouers is dood. Dit gebeur ook dat jy veg om die pasiënt aan die lewe te hou net om by die hospitaal te kom en dan is dit te laat.”
Mariet voeg by sy word kwaad as sy op ‘n ongelukstoneel kom waar dit duidelik is dat die ongeluk voorkom kon word, soos wanneer kinders nie vasgegordel is nie of op die ouers se skoot sit.
“Ons red nie net mense nie. Ons red ook diere. ‘n Groot vragmotor het een keer omgeval op ‘n rietrotma en sy is dood. Ek het haar kleintjies na die veearts geneem en hulle is na ‘n rehabilitasiesentrum geneem. Dan is daar ook donkies en beeste wat gered word,” vertel Gerhard.
“Die lekkerste deel is om die mense wie ons help en hulle familie en vriende se dankbaarheid te sien. Ons leer ken ook baie nuwe mense deur ons werk,” sê Mariet.
Dinge wat die twee pligsgetroue nooddienswerkers se werk bemoeilik is dinge buite hulle beheer soos pleknaambordjies wat gedraai is of net verdwyn het.




