‘Toks en Tjops’ by Oosskool
Net na die Springbokke se vernederende nederlaag Saterdag in Engeland het die gr. R-groep van die Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) besluit om 'n eg Suid-Afrikaanse Toks en Tjops tydens die Gymstrade (konsert) aan te bied
POLOKWANE – Net na die Springbokke se vernederende nederlaag Saterdag in Engeland het die gr. R-groep van die Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) besluit om ‘n eg Suid-Afrikaanse Toks en Tjops tydens die Gymstrade (konsert) op Maandag, 21 September aan te bied.
Die titel van die episode was Hier’s die Bokkies en daar is sommer vroeg in die aand reeds besluit om nie vreeslik oor Saterdag se wedstryd te praat nie, maar eerder net die optrede te geniet.
Die verhoog was buite op die rugbyveld en die gehoor het, soos rugby-toeskouers, op die pawiljoene gesit. Die kleuters was getooi in groen en goud, gereed om hulle land te “verteenwoordig”.
Die gr. 7-leerders het die hoofrolle vertolk. Toks van der Linde is gespeel deur Wian Haasbroek, Janina Oberholzer is gespeel deur Corina Stears en Breyten Paulse deur Wian Haasbroek. Vaatjie, wat gereed agter die vuur gestaan het, is deur Tiaan Enslin vertolk.
Net voor die gr. R-leerders op die verhoog verskyn het, kom die skeidsregter, Amie Smit, uitgehardloop en net daarna het die leerders op die verhoog gedraf terwyl Hier kom die Bokke speel. Daarna was dit Bok-Bok en Bokkie verby. Met Waka-Waka het die gehoor heerlik saam geklap en die leerders het met oulike danspassies vermaak.
Aan die einde van die aand het die kinders gevra: “Bokke, bring die beker huis toe,” en onder die luide toejuiging van die toeskouers van die veld gedraf.








