DA, VF+ politieke bekgevegte lok wye reaksie
Bekgevegte tussen die DA en die Vryheidsfront Plus (VF+) woed die afgelope tyd onverpoos voort op die sosiale netwerk of verdeeldheid van stemme geskep word met dié dat Marcelle Maritz van party verander het.
MOKOPANE – Bekgevegte tussen die DA en die Vryheidsfront Plus (VF+) woed die afgelope tyd onverpoos voort op die sosiale netwerk of verdeeldheid van stemme geskep word met dié dat Marcelle Maritz van party verander het. Daar word onder meer wyd gegis of dit tot die ANC se voordeel gaan strek in die komende tussenverkiesing wat op 11 November in wyk 32 gehou word.
In witwarm gesprekke op Facebook lig inwoners en die politici saam hul menings of Maritz se verskuiwing na die VF+ en die aanstel van Yolandé Coetzee, die nuwe DA kandidaat vir wyk 32, nie gaan veroorsaak dat die ANC in die wyk die kitaar gaan slaan nie. Daar word verwys na die spreekwoord: twee honde baklei oor ‘n been en die derde een loop daarmee heen.
Beyers Smit, DA parlementslid van Mokopane, sê dit is vir hom ironies dat die VF+ op hul plakkate in die dorp sê “Saam is ons Sterker” terwyl die party die dorp se stemme nou verdeel ten gunste van die ANC wat die gaping sien om die wyk te vat.
“Hulle kandidaat (VF+) het vir my vroeër in die jaar reguit gesê dat sy weet sy sal nie wen as sy by die VF+ aansluit en vir hulle staan nie, maar sy sal ons stemme so verdeel dat die ANC wen, solank die DA die wyk verloor,” sê Smit.
Neels Stolk meen almal in Mokopane weet dat Maritz 100% vir mens en dier gegee het. “As daar krag of waterprobleme is, wie het die mense gebel en wie het dit uitsorteer – Marcelle Maritz. Sy bly ‘n staatmaker.”
Kcey Deodot (Valerie) Byliefeldt sê op die Potties Babbel en Klagteblad: “Sy gaan die eerste een wees wat hardloop as die wind draai. As sy dit aan die DA kan doen, hoekom nie ook aan ander partye nie?”
Byliefeldt meen die DA het nog altyd ‘n goeie diens gelewer en kom hul beloftes na. “Hoekom sal ons mense verdeel en die deur oopmaak vir die ANC? Die VF+ is besig met ‘n gevaarlike resep vir ‘n ramp.” Sy wys ook daarop dat die DA die wyk in 2011 gewen het en dat die party probleme van die Mogalakwena Munisipaliteit aangevat het nadat die munispipaliteit op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak platgeval het. As ‘n span het die DA onverpoos gewerk om die omstandighede te verbeter. Selfs die leier van die party, Mmusi Maimane, het die dorp twee keer besoek om sake te probeer beredder.
Maritz kap terug en wys daarop dat sy gedurende hierdie onrus die heeltyd self daar was ondanks die opdrag om te onttrek.
Gert Moolman vra hoe kan ‘n VF+ verteenwoordiger sê dat sy nee gestem het vir hervorming in 1992 en dan is sy trots daarop? “Maritz is ‘n goeie mens en doen goeie dinge, maar sy sê altyd dit is sy wat die werk doen en nie haar hemp nie, so hoekom dan die DA slegmaak. Dit is dan mos nie die hemp nie. Die VF+ gaan nooit ‘n amptelike opposisie raak nie, so hoekom jou stem mors. ‘n Mens gaan ook nie ‘n party kry wat jou 100% gelukkig maak nie, maar jy moet met die meeste goed kan saamstem en deur ander sleg te maak om jou as ‘boer’ beter te laat lyk, is nie vir my nie. My stem bly blou, maar onthou jy kan stem vir wie jy wil danksy die meeste mense wat ja gestem het in 1992.
Korny Dekker, DA raadslid van wyk 31, sê op sy blad: “So hartseer dat mense die mens begin aftakel en nie ‘n spesifieke party nie. Elke persoon wat graag volgens sy of haar wil ‘n verskil wil maak vir ‘n gemeenskap moet seker maar self besluit met watter politieke party hy of sy verbind wil wees. Moet dan nie die persoon aanval nie.” (sic)
Maritz het reageer hierop met: “So waar Korny dit is eintlik seer om terug te veg en eintlik weet die meeste van hulle wat ‘n mens sleg sê die waarheid. Ek probeer my bes om persone uit te los en die saak aan te vat, maar dit is nie genoeg. Almal weet hoekom ek geskuif het en nie weggehardloop het nie en ook nie net skuif nie. Ek het nooit iemand aangeval en was deur alles stil en noudat ek weg is, nou was ek sleg. Kan nie dit glo nie nadat ek net die DA se naam hooggehou het tussendeur al die aanvalle op my, maar nee ons moet net trap. Dis seer. Ek doen wat ek doen met liefde en wil net aangaan. Ek is baie gelukkig om die gemeenskap te dien.” (sic)
Intussen gee Maritz se aanhangers hulle volle steun aan haar op haar blad. Gert van Rensburg sê daar is net een antwoord vir blanke minderheidsregte wat moreel eties aan sy verwagtinge voldoen en dit is die VF+. ‘”n Meerderheidstem is nie tersprake, ook nie vir die DA nie. Moenie jou gewete verkrag nie, stem groen.”
Monique Samber Maartens meen die persoonlike aanvalle is onnodig. “Regtig mense niemand hou ‘n pistool teen jou kop om vir die VF+ te stem nie. Aan die einde van die dag gaan almal stem vir wie hulle wil.”
Maritz het vandeesweek Bosveld daarop gewys dat sy nooit aan Smit sou sê dat sy nie die wyk vir die VF+ sal wen nie, maar sorg dat sy die stemme sal verdeel en dat die ANC die wyk wen.
Terwyl die politieke debatte op Facebook voortgesit word, kon kiesers van wyk 32 wat nog nie geregistreer is nie, verlede naweek by verskeie punte aanmeld. Beide Maritz en Smit het laat weet hulle is tevrede met die opkoms.




