Tik-tak die jaar is byna op sy kop, tyd wag vir niemand
REDAKTEUR SE INK: Ons is in die laaste maand van die jaar en hier op kantoor sug almal oor 'n lang jaar wat byna op sy kop lê en daar word uitgesien na 'n oomblik van terugsit oor Kerstyd.

Ons is in die laaste maand van die jaar en hier op kantoor sug almal oor ‘n lang jaar wat byna op sy kop lê en daar word uitgesien na ‘n oomblik van terugsit oor Kerstyd. Maar tot dan is daar nog ‘n koerant wat moet klaar en nuus hou nooit op nie.
Net as ‘n mens dink dinge is nou stil lui die fone en word daar vir oulaas nog prysuitdelingsaande bygewoon en die praatjies in die voorste gestoeltes bereik ‘n mens se ore.
Daar is ook onlangs ‘n groot afskeidspartytjie in die Pierneefsaal gehou om skoolhoof Jas Hansen te groet.
Met so klomp mense bymekaar word daar lekker gekuier en gesels oor als en almal.
Is skinder maar deel van die mensdom se aard? Skinderbekke kry ‘n mens mos maar oral en daagliks in jou handel en wandel, ook hier op Potties. Daar word gepraat in kantore, om teetafels, funksies en ook by skole wat my laat dink aan die rympie “klikkie klikkie kekkelbek….” wat vroeër jare in skoolgange gesing is.
Daar is seker verskeie redes waarom mense skinder. ‘n Mens met ‘n los tong geniet mos ‘n sappige brokkie nuus en dit kan wees omdat so ‘n persoon jaloers of bedreig voel oor jou sukses of dalk nie veel te doen het nie. ‘n Los tong met halwe waarhede of leuens laat hom/haar moontlik goed voel en lyk.
Ledigheid is die duiwel se oorkussing, het my ouma altyd gesê, maar dit is die skrywer en digter, Rudyard Kipling, wat die spyker op die kop slaan met sy gesegde: “Wie ookal by jou skinder, sal ook oor jou skinder”.
Gepraat van die taal wat die mond verlaat. Die gier van die volwasse skoner geslag om in verkleiningvorme te praat en sulke boodskappe vir mekaar op sosiale media te stuur laat my wonder of dit vroue fyner en vrouliker laat voel en hou mans daarvan of irriteer dit hulle? Geniet jou “daggie” my “liefietjie” en jy is so “oulikies” my “mensie”. Ek vra dit op facebook en die manne laat weet dit maak hulle “naarkies” as vroue so praat, maar ‘n vriendin laat my lekker lag. Sy skryf: “Dit irriteer die wit waksies uit my. Wat is so klein aan enige daggie, veral as dit ‘n slegte een is?”.
Met die “daggies” wat vinnig verby snel gaan ons binnekort die horlosiewysers wat ‘n nuwe jaar aankondig dophou. Ek vra vir my kollegas hoekom kry mense wat aftree altyd horlosies? Dit lyk my dit hang ook af hoeveel jare jy werksaam by ‘n plek was en hoe belangrik die betrekking was wat jy beklee het wat bepaal of jy ‘n goue armhorlosie, een vir jou kas of muur of ‘n groot hout staan een kry. As jy gelukkig is vat jy dalk ‘n duur antieke een huis toe of ‘n groot koekoekklok. Die koekoeklok het in die 17de eeu in die Swart Woud in Duitsland gestalte aangeneem en het destyds as ‘n wekker gedien.
Ek lees die primitiefste soort horlosie was eenvoudig ‘n boomstomp of ‘n stok wat in die grond ingedruk was. Die ligging van die skaduwee het aangedui of dit voormiddag of namiddag was.
Hoe dramaties verskil dit nie van waaraan ons vandag gewoond is nie.
Nou wonder ek, moet daardie aftreehorlosie jou herinner aan hoe kosbaar tyd is en hoe vinnig dit aanstap, of is die tik-tak of die dong daar sodat jy soggens steeds vroeg uit die vere verrys?
Tyd wag inderdaad vir niemand en in hierdie kitswêreld waarin ons leef herinner horlosies teen ons mure, op ons arms, op ons selfone, en op ons rekenaartablette ons daagliks aan die stormloop om betyds te wees.
Mag elke leser van Bosveld hierdie Feesseisoen vir ‘n kort rukkie agteroor gaan sit en vergeet hoe laat dit is. Mag die tyd vir ‘n oomblik stil gaan staan sodat u met oorgawe saam met geliefdes en vriende kan ontspan.Wees lief vir mekaar, kuier ‘n hond uit ‘n bos en lag diep uit jou maag. Wys in hierdie feestyd jou vreugde, omgee en dankbaarheid voor die groot gejaag na wind in 2016 weer begin.



