Bosveld NewsNews

Ongewone weertoestande asook korrupsie bring land tot sy knieë

Die weer is erg omgekrap. Op dieselfde dag dat Phalaborwa en Lephalale die warmste plekke in die land was met 41 grade, was Oudsthoorn en Hermanus die koudste met 19 grade. Ek meen, die eerste twee en Hermanus kan ek verstaan, maar wie het al van Oudtshoorn gehoor wat op 7 Januarie net 19 grade …

Die weer is erg omgekrap. Op dieselfde dag dat Phalaborwa en Lephalale die warmste plekke in die land was met 41 grade, was Oudsthoorn en Hermanus die koudste met 19 grade. Ek meen, die eerste twee en Hermanus kan ek verstaan, maar wie het al van Oudtshoorn gehoor wat op 7 Januarie net 19 grade is?

Dis so goed as om op Kersdag sneeu in Betlehem (Vrystaat) te sien val. Derduisende infanteriste wat met die jare hul opleiding op Oudtshoorn gedoen het, sal met my saamstem, 39 grade is die norm, 19 is net onmoontlik. G’n wonder die Noordpool se temperatuur was op 30 Desember bo vriespunt nie. Dit is die eerste keer dat dit ooit so aangeteken is. Onthou, dis middel winter daar bo.

Die hittegolf met sy piek op 7 Januarie het my binnenshuise termometer tot 35 grade opgedwing.

Toe ek dit teen 16:00 die middag in die ommuurde agterplaas in die son gaan ophang, gaan staan en bibber die ou dingetjie hier by 59 grade rond, net een weg van sy maksimum af.

Die land verswelg onder die versengende hitte en boere en hul vrouens skryf die mooiste, maar terselfdertyd die hartverskeurendste, briewe en stories oor hoe die droogte hulle raak. Die Vrystaat is besig om in ‘n woestynlandskap te verander, derduisende vee vrek van honger en dors en op sommige plekke raak mense handgemeen oor water. Wat doen die Vrystaatse premier egter? Hy laat vir hom ‘n amps-Mercedes van R2,3 miljoen aankoop.

Die eerste foto’s van watertekorte in Mogalakwena het reeds op sosiale media verskyn en die DA beplan protesoptredes daaroor. Munisipaliteit, julle beter julle tenkwaens in gereedheid hou en agbare burgemeester bly maar vir eers weg van die versoeking om ‘n ou nuwe rydingetjie hier aan die begin van 2016 aan te skaf.

Dan sien ek ook die Limpopo regering het net voor Kersfees R89 miljoen op bakkies vir 101 tradisionele leiers spandeer, sommer met ‘n petrolkaart ingesluit. Dit kom neer op R881 000 per bakkie. Teen daardie prys moet dit uitstekende bakkies wees, of het iemand weer lekker uit die trog geskep?

Die beste raad wat ek nou vir iemand kan gee is om daardie leë spasies in vries- en of koskas te benut en vleis, vriesbare groente en mieliemeel aan te koop voordat dit onbetaalbaar duur gaan word. Maak ook elke houer wat jy het of kan kry vol water en bêre dit iewers.

Die belangrikste besluit wat ons egter sal moet neem, gaan hier in Meimaand wees met die munisipale verkiesing. Nou wonder ek hoe lank nog kan ons land die vergrype van die huidige ANC regering oorleef? Ek merk op dat Senekal in die Vrystaat se inwoners dreig om die verkiesing te boikot as hulle nie spoedig water kry nie. Dis natuurlik die domste ding ooit. Stem dan eerder vir die opposisie en kyk of hulle nie beter sal kan doen nie. Dit lyk of alles in die DA-beheerde Wes Kaap goed werk, tot die matriekslaagsyfer daar was die hoogste in die land.

Ek sien darem ons eie premier het aangedui dat iets met sy LUR van onderwys kan gebeur as mense nie afgedank word by daardie skole in Limpopo wat ‘n nul matriekslaagsyfer behaal het nie. Van matriek gepraat, is daardie stukkie papier enigsins iets werd? In ‘n land met miljoene werkloses wat graag wil werk, kan soveel jong mense nie werk kry nie omdat diegene wat hulle wel sou kon aanstel nie die minimum neergelegde loon kan bekostig nie.

Vakbonde is ‘n goeie ding waar dit gaan oor regverdige behandeling van werkers, maar as hulle optredes juis daartoe bydra dat mense nie werk kan kry nie, is iets nie reg nie.

Dan praat ek nie eers van die onderwysvakbond wat blykbaar op sommige plekke onderwysposte verkoop het nie – en nou kliphard protesteer oor die dreigement om nie-presterende skoolhoofde in Gauteng af te dank. Wanneer die stert woer-woer met die hond begin speel, is dit reeds baie laat in die dag.

Ag ja, en daar raak almal weer op hol oor rassistiese twiete en twitters, bibbers en goeters, gesondig vanaf beide kante van die kultuurgordyn. Mense, wees maar uiters versigtig met dit wat julle via die elektroniese media die wêreld instuur. Dit word dadelik openbare besit. Ek wonder of ene Mnr B. wat moontlik in Chroompark bly as ek moet oordeel na sy inskrywing oor vullisverwydering, weet hoe ver sy Facebook inskrywing van 4 Januarie versprei is waarin hy na Zuma verwys as die “Domste k-woord ooit”, met ‘n foto van die man daarby.

Nie almal waardeer sulke sentimente nie. Wees versigtig want sulke goed het die nare geneigdheid om op die mees onverwagte tye om te draai en ‘n mens aan die agterstewe te byt.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button