Koddige krimpvarkies skrop vinnig in diereliefhebbers se harte nes
n Redelike nuwe troeteldier wat ál hoe meer gewild word is die krimpvarkie. Review het met Nadene Meiring by Sterkloop Tackle & Petshop gesels oor hierdie interessante troeteldier
POLOKWANE – ‘n Redelike nuwe troeteldier wat ál hoe meer gewild word is die krimpvarkie. Review het met Nadene Meiring by Sterkloop Tackle & Petshop gesels oor hierdie interessante troeteldier.
“Krimpvarkies is nagdiere wat katkos, krieke, meelwurms en groente eet. Hulle is ook baie lief vir papaja,” vertel sy.
Daar word gemeen ‘n krimpvarkie se intelligensievlak is soortgelyk aan dié van ‘n hamster. Hulle is skugter diere wat nie mense se toenadering sommer sal soek nie. Hulle word wel baie mak vir die persoon wat hulle gereeld hanteer.
Krimpvarkies is lig en weeg tussen 170 g en 900 g en hul hokke hoef ook nie vreeslik groot te wees nie. Hulle raas nie en sal nie die bure pla nie.
Nadene sê hulle hokke moet wel gereeld skoongemaak word. “Hulle is geneig om vlooie te kry, katpoeier kan gebruik word om van hierdie peste ontslae te raak.”
Die karaktereienskappe van ‘n krimpvarkie-eienaar is onder andere geduld en aanvaarding. Hulle moet geduld hê om met die diere te werk en die krimpvarkie se gedrag en gewoontes aanvaar. Ook moet hulle ingelig wees en weet dat krimpvarkies nie ‘n goedkoop troeteldier is om te koop of aan te hou nie.
“My krimpvarkie, George, is vir my die lieflikste dier wat ek kon kies. Hy het ‘n persoonlikheid van sy eie,” vertel Abigail Henzen, die eienaar van ‘n koddige krimpvarkie.




