Sake hier én oor die water beloer
BOSVELDPRAATJIES: In 2015 het tee se prys met 22%, sonneblomolie met 16%, tamaties met 38% en mieliemeel met 17% gestyg. Met na wat geraam word die ergste droogte in die land in 100 jaar te wees, kan mens maar net wonder wat die situasie in 2016 gaan wees.

In 2015 het tee se prys met 22%, sonneblomolie met 16%, tamaties met 38% en mieliemeel met 17% gestyg. Met na wat geraam word die ergste droogte in die land in 100 jaar te wees, kan mens maar net wonder wat die situasie in 2016 gaan wees.
Dan is Graan SA se skatting dat daar 3,8 miljoen ton mielies in 2016 ingevoer moet word, geensins gerusstellend nie.
Na 68 jaar en twee miljoen voertuie het die laaste LR Defender van die monteerbaan in Engeland afgerol. Dis aanvanklik in 1948 as ‘n plaaswerktuig met ‘n 38kw enjin bekendgestel – omtrent dieselfde krag as wat die vroulike fietsryer wat onlangs betrap is dat haar fiets ‘n ingeboude enjin in die fietsraam het, se fiets kan produseer.
‘n Tiener in Nepal is nou die nuwe wêreldrekordhouer nadat hy 138 potlode gelyk in sy mond kon druk, op van net 92 van die vorige rekord uit Indië. Praat van grootbekke! Die vetste man ter wêreld op 444kg, in die VS, waar anders, is nou ook saliger nadat hy in die laaste drie dae van lewe elke dag ses energiedrankies weggeslaan het. Sy hart het blykbaar eksepsie daarteen geneem en hom toe aangeval.
Ten spyte van die droogte wat honderde boere tot bankrotskap kan dwing, het die agbare Minister van Arbeid ‘n nuwe verhoogde minimum loon vir plaaswerkers vanaf 1 Maart vasgestel.
Dit verhoog oor die volgende twee jaar elke jaar met inflasiekoers plus 1%, want dis mos verkiesingsjaar, sien. Miskien moet die agbare Minister Oliphant bietjie meer sagkens trap as haar amperse naamgenoot in die natuur en kennis neem dat ‘n firma in Japan nou daagliks 30 000 koppe kropslaai produseer deur net van robotte gebruik te maak. Hulle wil dit binne die volgende twee jaar tot 90 000 koppe per dag verhoog.
‘n “Profeet” in Zimbabwe, Sam Hungwe, het die oplossing gekry vir eksamenvrees. Koop net een van sy “ingeseënde” penne vir tussen VSA $1 en $20 (afhangende hoeveel jy kan bekostig), glo dat jy gaan slaag en deurkom van enige eksamen is daarna kinderspeletjies. Dink net wat hy in SA sal kan regkry. G’n meer gesteelde matriekvraestelle of selfs skoolgaan nie. ‘n Pen en geloof en jy is enige eksamen se baas – gewaarborg. Wil julle weet watter effek Nenegate op ons rand gehad het?
Zimbabwe, wat al geruime tyd nie meer sy eie geldeenheid het nie, steun tot ‘n groot mate op die geld wat miljuisende onwettige Zimbabwiërs uit SA huistoe stuur. Die realiteit is egter nou dat al meer handelaars daar nie meer die SA rand as geldige betaalmiddel wil aanvaar nie!
‘n Swart 23-jarige Suid-Afrikaner wat ironies genoeg met ‘n Rhodes studiebeurs aan Oxford studeer, het daar begin met ‘n #RhodesMustFall veldtog om Rhodes se standbeeld bo die ingang van Oriel Kollege by Oxford Universiteit te verwyder.
Die Oxford Unie het daarvoor gestem dat dit verwyder moet word, maar baie vinnig ‘n gatomkeer gemaak toe Oxford alumni (hul sg “Old Boys”) binne drie dae die ekwivalent van R2 350 000 000 in donasies en erflatings aan Oxford onttrek het.
Weke na die ANC leier in die Wes Kaap van eksplisiete seksuele teistering aangekla is, het hy steeds in sy pos gesit. So ook die burgemeester van Beaufort Wes wat onbeskaamd skriftelik probeer beinvloed het dat plaaslike tenders toegeken behoort te word aan instansies wat ‘n kickback tot die ANC se verkiesingsveldtog sou gee. Die DA aan die anderkant het binne twee dae nadat sy burgemeester in George van huismoles verkla is, hom 24 uur gegee om skriftelik te motiveer waarom hy nie geskors behoort te word nie.
Ek wonder ook mos wat van die 20 + ministers en hul personeel gaan word wanneer die DA eendag die bewind oorneem – af van die huidige 35 na net 15 onder ‘n DA regering.
Volgens my wete is ons huidige 35 ministers vir omtrent 50m mense die meeste per capita ter wêreld. Vergelyk dit met die VS se 15 vir meer as 300m mense.
As u op Facebook lees dat KFC nou hoenders met ses vlerke en agt pote produseer, wees maar versigtig om dit nie verder te versprei nie.
Drie firmas in Shanghai het stewige boetes op die lyf geloop daaroor, glo omdat hulle die maatskappy se naam in oneer wou bring deur hierdie gerug te begin en daardeur markaandeel wou wegneem. Selfs met 20 pote en drie koppe sal gebraaide hoenderstukke egter steeds die voorkeurmaal by regeringswerksessie op alle vlakke van regering in ons land bly.
Ag ja, en daar maak prediker Andries Enslin toe binne enkele dae ‘n stewige R5 m op ‘n huis se koop en verkoop en belê terstonds die winsie in ‘n wildsplaas. Die koerante soek nou vir suursop in die transaksie, terwyl Andries se ondersteuners met hand en tand vir hom skerm amper soos JZ se juigkommando en sommige van sy ministers wat maar net nie wil insien dat hul leier ook menslike foute kan hê nie.
Komende so vinnig na sy verpligte drie maande verlof, wonder mens ook mos maar trek daar nie miskien iewers ‘n rokie nie? Intussen geniet ek egter die man se preke, want preek, dié kan hy.
As net Botswana en SA teen hierdie tyd openlik hul steun aan Tokyo Sexwale vir sy moontlike verkiesing as nuwe FIFA president toegesê het en na verwagting nie meer as 27 van die 57 Afrika sokkerverenigings hom gaan steun nie, sien ek maar swarigheid vir hom om daardie ou joppie in te palm.
So van sokker gepraat: Ekwatoriaal Guinee se vroue sokkerspan word van bedrog beskuldig deurdat hulle na bewering huursoldate gebruik, geboortedatums vervals en speelsters wat nie kwalifiseer om vir die land te speel nie, onder vals name laat opdraf.
Nader tuis wys statistiek dat 45% wit en 50% swart troues deesdae in die skeihof beland. Meeste egskeidings kom nou in die ouderdomsgroep 40 – 50 jr voor terwyl vroue (50,6%) meer geneig is om ‘n egskeiding te inisieer as mans (33,5%).



