NewsSchools

Bosveld Intervarsity na 12 jaar weer realiteit

Een van die grootste rugbykragmetings tussen twee plaaslike hoërskole, die Bosveld Intervarsity, wat in 2004 ‘n stille dood gesterf het, vind vanjaar weer tussen Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg (PHS) plaas. Die twee skole kompeteer sedert 1977, maar in 1981 het die destydse Tommie-hoof, Ferdi Preller die kragmeting as Bosveld Intervarsity gedoop. …

Een van die grootste rugbykragmetings tussen twee plaaslike hoërskole, die Bosveld Intervarsity, wat in 2004 ‘n stille dood gesterf het, vind vanjaar weer tussen Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg (PHS) plaas.
Die twee skole kompeteer sedert 1977, maar in 1981 het die destydse Tommie-hoof, Ferdi Preller die kragmeting as Bosveld Intervarsity gedoop. Volgens die skool se argiewe was dit ‘n groot affêre tussen die twee skole wat tot 6 000 toeskouers per geleentheid gelok het. Optogte is selfs destyds deur die stad se strate gehou.
Tommie-hoof, Piet Holtzhausen onthou dit soos gister toe hy vir agt jaar as afrigter van die Bosveld Intervarsity se eerste rugbyspan opgetree het. “Dit was die grootste geleentheid op die jaarlikse skoolkalender en al die leerders en ouers was op een of ander ma-nier betrokke. Alhoewel rugby die hoogtepunt was, het leerders ook in ander sportkodes, soos veerpyltjies gekompeteer.”
Die program sluit vanjaar ook netbal, hokkie, sokker en skaak in en selfs leerkragte gaan mekaar op die rolbalbaan uitdaag. Die intervarsity word oor twee of drie dae aangebied met die hoogtepunt op Saterdag, 21 Mei op die rugbyveld en netbalbaan.
“Alle ouderdomsgroepe van o.14- tot eerstespanvlak is deel van die okkasie wat voortaan jaarliks gaan plaasvind, maar die skool wie se eerste rugbyspan verloor, verloor die Bosveld Intervarsity,” sê Holtzhausen. Toeskouers kan ook na ‘n Old Boys-wedstryd tussen voormalige Tommies en Pieties uitsien.
Tommies kompeteer nou weer in die grootskole-afdeling saam met PHS wat die ideale geleentheid geskep het om weer die intervarsity te begin. “Die doel is om goeie verhoudinge te bou en in goeie gees kompeterend te wees,” sê Holtzhausen wat voorspel dat Tommies moontlik gaan swaar kry omdat PHS se sport op ‘n hoë standaard is, maar meen tog dinge kan vinnig tydens ‘n wedstryd verander.
Pietie-hoof, Willie Schoeman is dit eens dat ‘n bal wat op die groot dag net verkeerd spring, ‘n reuse verskil kan maak. “Ons is reg vir Tommies. Hulle het ‘n verkeerde jaar ge-kies want ons het ‘n sterk span. Ons gaan oor hulle hardloop,” skerts hy.
Dit is die eerste keer wat Schoeman deel van die ryk tradisie sal wees waarna hy gretig uitsien.
“Dit was die beste deel van die skooljaar en as leerders het ons vir die Bosveld Intervarsity geleef. Die gees tussen die twee skole was onbeskryflik en ons hoop om dit weer ‘n geleentheid te maak wat die hele stad sal betrek,” sê Tommie-sporthoof, Kobus de Meyer, wat in 2003 tydens die laaste tuisveldwedstryde by Tommies, vir die skool se eerste rugbyspan uitgedraf het.
Pietie-sporthoof, Pierre Coetzee het in 2004 toe die Bosveld Intervarsity vir die laaste keer op PHS se veld aangebied is, vir die eerstespan gespeel. “Ek onthou die groot skare die beste. Die pawiljoene reg rondom PHS se veld was volgepak, toeskouers het selfs op die gras om die veld gesit.”
Besighede of individue wat by die geleent-heid wil betrokke raak, kan De Meyer by 076 849 7573 skakel.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button