Kruinies toer na Frankryk, Spanje
Coca-Cola Fortune het verlede week twee T-hemde en ‘n fluitjiekoord (lanyard) aan elke rugbyseun van Curro Heuwelkruin oorhandig wat aan ‘n sport- en kultuurtoer na Frankryk en Spanje gaan deelneem. Volgens Kruinie-leerkrag, Beatrix Nieuwoudt bestaan die toerspan uit o.16-, o.17- en o.18-spelers en ondersteuners. “Tydens die toer wat van 16 tot 28 Maart plaasvind, word …

Coca-Cola Fortune het verlede week twee T-hemde en ‘n fluitjiekoord (lanyard) aan elke rugbyseun van Curro Heuwelkruin oorhandig wat aan ‘n sport- en kultuurtoer na Frankryk en Spanje gaan deelneem.
Volgens Kruinie-leerkrag, Beatrix Nieuwoudt bestaan die toerspan uit o.16-, o.17- en o.18-spelers en ondersteuners. “Tydens die toer wat van 16 tot 28 Maart plaasvind, word sowat vier rugbywedstryde teen klubs in Parys, Lyon, Montpellier en Perpignan gespeel. Na wedstryde word die spelers en ondersteuners deur die klubs onthaal wat ons die geleentheid bied om met die plaaslike inwoners te kuier en meer oor hul kultuur te leer,” sê Nieuwoudt.
Die seuns gaan ook plekke soos Disneyland Paris, die Eiffeltoring en verskeie stede besoek. Die hoogtepunt is ‘n Sesnasies rugbytoets op Stade de France tussen Frankryk en Engeland wat hulle sal bywoon en ‘n avontuurlustige besoek aan Barcelona, Spanje.
Die geborgde Powerade T-hemde sal telkens gedra word voor die seuns ‘n wedstryd speel. “Ons is dankbaar vir die ondersteuning van Coca-Cola Fortune en sal met trots die hemde dra,” sê Nieuwoudt.
Hoof Foto: Verskaf – Die rugbyseuns van Curro Heuwelkruin wat die vakansie ‘n rugby- en kultuurtoer na Frankryk en Spanje onderneem. Saam met hulle in die middel is Peter Mojela van Coca-Cola Fortune Special Events. Naaslinks agter is die spanbestuurder, Craig Adams.
RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



