POLOKWANE – Volgens ‘n bron het die verdagtes toegang tot die gebou verkry deur die dak.
“Hulle het ‘n gedeelte van die dak oopgebreek en in die gebou gegaan. Dis die enigste manier hoe hulle kon inkom sonder om die alarm te aktiveer. Ons vermoed toe hulle deur die dak klim het hulle die alarm stelsel gebreek en toe die tralie hek en agter deur oopgebreek. Hulle het die adjunkhoof se kantoor oopgebreek en ‘n gat in die muur langs die kluis gemaak waar hulle ‘n onbekende bedrag geld uit die kluis gesteel het,” verduidelik die bron.
Die bron vertel verder dat die verdagtes ook in die ander kantore in die blok was, maar niks gevat het nie.
“Ons weet hulle was in die ander kantore want die deure was ook oopgebreek en dit is duidelik dat hulle die plek deursoek het,” sê die bron.
Die waarnemende hoof, Bettie Boom, wou nie enige kommentaar oor die saak lewer nie.
Boom het verduidelik dat volgens haar werkskontrak mag sy nie met die media praat nie en het Review verwys na die skool se beheerliggaam of die Departement van Onderwys vir kommentaar aangaande die saak.
Eugene Lyle, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het die voorval bevestig.
“Toe die waarnemende hoof het die volgende oggend toe sy die kantoor oopsluit op die toneel afgekom. Sy het dadelik die polisie gebel ‘n saak is by die Westenburg polisie stasie geopen. Ons pleit met die gemeenskap as enige iemand iets weet of inligting het wat kan help dat ons die skelms kan vastrek om asseblief na vore te kom,” sê Lyle.
Kapt. Mohlaka Mashiane, ‘n Westenburg polisie woordvoerder, sê daar is nog geen verdagtes gearresteer nie.



