Pa oorweeg regstappe teen kliniek nadat kind sterf
‘n Pa van Westenburg, Grobler Heyman se hartseer oor sy agt maande oue dogter, Adinah lê nog vlak terwyl hy verbete na antwoorde soek of iemand verantwoordelikheid gaan aanvaar vir haar dood verlede jaar. Adinah het op 2 Oktober gesukkel om asem te haal en het blasies op haar lippe en in haar mond gehad …

‘n Pa van Westenburg, Grobler Heyman se hartseer oor sy agt maande oue dogter, Adinah lê nog vlak terwyl hy verbete na antwoorde soek of iemand verantwoordelikheid gaan aanvaar vir haar dood verlede jaar.
Adinah het op 2 Oktober gesukkel om asem te haal en het blasies op haar lippe en in haar mond gehad toe Heyman haar omstreeks 19:30 na Rethabile Clinic geneem het.
“ ‘n Verpleegster het my kind een kyk gegee en vyf botteltjies medisyne gegee. Sy het Adinah nie eers ondersoek nie en ons huis toe gestuur,” sê Heyman.
Die volgende dag was haar toestand onveranderd. Nadat sy geëet en die medisyne gedrink het, het sy weer moeilik begin asemhaal.
“Net voor 11:00 het ek die nooddienste gebel. Hulle was binne nege minute by my huis, maar dit was te laat. Adinah was reeds dood,” sê hy.
Heyman het op 29 Oktober ‘n brief aan die bestuur van Rethabile Clinic oorhandig wat deur een van die verpleegpersoneel geteken is as ontvangserkenning.
“Ek het toe al met die koerante gedreig indien ek nie binne 48 uur antwoorde van hulle ontvang nie. Hulle het net vir my gesê dat hulle die saak sal ondersoek en tot vandag toe het ek geen antwoord gekry nie,” sê Heyman.
Hy wil onder andere weet hoekom die verpleegster nie Adinah na ‘n hospitaal verwys het nie en hoe sy medikasie kan kry sonder dat sy ondersoek is.
“Ek neem hulle kwalik vir my kind se dood en verwag dat die departement van gesondheid die saak deeglik sal ondersoek en stappe sal neem indien nodig. Ek sal nie ophou krap totdat iemand aan die pen ry nie.”
Departementele woordvoerder, Derick Kganyago was nie bewus van die voorval of die brief wat aan Rethabile se bestuur oorhandig is nie. Hy het gevra dat die brief van Grobler aan hom gestuur word voordat hy kommentaar lewer.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



