
Daar weet ons dit nou almal. Die Hoofman van “Nkôndla” gaan net R7.8 miljoen van die totale boukoste van R246 miljoen vir sy plekkie in die son moet opdok. Hopelik sal sy genieting daarvan nie te lank duur nie, want daar wag 783 aanklagte van korrupsie, rampokkery en bedrog wat teen hom heringestel moet word.
My hare het egter gerys toe die heer Malema aankondig dat hy na die ANC toe sal terugkeer, indien die hoofman sou bedank. Ek sê hoeka lankal dat dit wat die EFF predik gaan gebeur sou aan hulle aan bewind kom, die huidige ANC vergrype na speletjies in die sandput by ‘n kleuterskool sal laat lyk.
Dis mos nou volmaan vir plaaslike politiek, met algar wat die son, maan en sterre belowe as iemand maar net vir sy of haar politieke party sal stem. Die arme Britte het al die politieke praatjies oor bly of ry by die Europese Unie geglo en eers toe die hond letterlik die bus gevang het, begin Google waaroor alles gaan. Nou is dit te laat en die wêreld is skielik op pad na ‘n resessie, tot ‘n groot mate aangehelp deur die warmlugpraatjies van ene Boris Johnson, voormalige Londonse burgermeester, en bewese leuenaar as mens die Britse pers moet glo. Lui dit iewers plaaslik ‘n klokkie?
Maak dus maar seker dat dit wat aan u as die waarheid verkwansel word, wel die waarheid is, veral as dit oor verdagmakery van ‘n ander party gaan om oningeligde stemme te werf. Ek merk juis hoeka op dat een party wat naarstiglik na die wit stem vry, netjies swyg dat sy leier eens op ministeriële vlak saam met die ANC in dieselfde bed was.
Ons weet nou ook al dat die ANC nie juis gepla is oor hoe hulle staatsgeld misbruik nie. Nou gaan van hulle egter selfs verder. ‘n LUR is onlangs in Bloemfontein arresteer toe sy haarself aan onder andere ‘n paar oorbelle in ‘n winkel gehelp het. Soos te verwagte, het niks verder gebeur nie. Die EFF het selfs ‘n stappie verder gegaan. Een van hul kandidate vir die munisipale verkiesing – let wel, hy is nog nie eers in die politiek nie – is betrap met ‘n klomp gesteelde skape in sy voertuig.
Pretoria het gebrand toe ‘n Zoeloe, wat toevallig ook een van die hoofman se ondersteuners is, op ANC lede afgedwing is. Plaaslik is ‘n aantal ANC raadslede nie so lank gelede nie summier geskors omdat hulle dit durf waag het om teen hul burgermeester se vergrype op te staan. Die DA het ook maar sy probleme, maar dis verfrissend anders hoe hulle dit aanpak. Sopas in George het die DA koukus ewe beskaafd versoek dat die DA burgermeester, ene Charles Stander, tydelik van sy pligte onthef moet word. G’n niks van rommel in die strate strooi of stakings of selfs deure met polisiehulp afbreek nie. Net maar beskaafde politiek met beskaafde norme as maatstaf. So anders as wat by ons in Mokopane gebeur het.
So as ‘n nagedagte – is daar enigiemand wat bereid is om vir my ‘n paleis te bou waarvoor ek net 3% van die koste hoef te betaal? ‘n Pondok sal ook goed wees, want sommige van “Nkôndla” se geboue lyk juis bietjie pondokkerig.
(Pondok: klein nederige woninkie – HAT 1985)



