MOKOPANE -Valerie, ‘n bekende inwoner en Vryheidsfront Plus kandidaat vir Wyk 7, en haar seun KC Byliefeldt is Saterdag om 11:00 deur vier verdagtes oorrompel. Valerie was op pad om lone te gaan betaal toe die verdagtes hulle teiken.
Valerie sê aan Bosveld, haar seun het die ingangshek na hulle huis toegeskuif, toe sy die verdagtes in haar truspieël gewaar. “Ek het vir KC geskreeu, maar toe gryp een van die verdagtes reeds na my sleutel.”
KC het sy ma te hulp gesnel en die verdagte met die vuis bygedam. KC vertel die verdagte het agteruit geslinger en toe na sy pistool gegryp. “Die skote het geklap nog voordat ek my oë kon knip,” sê KC.
Volgens Valerie het sy die verdagtes gesmeek om die geld te vat en hulle lewens te spaar. Die booswigte het toe die kontant ter waarde van R24 650 gebuit en weggehardloop.
KC het die verdagtes agternagesit en hulle in ‘n motor sowat vier huise verder sien wegjaag. Valerie het Special Operation Solutions (SOS) gekontak en binne etlike minute was Willie Harmse (reaksie-offisier) en die polisie op die toneel.
KC sê in daardie stadium het hy vas geglo dit is slegs leë skote wat afgevuur is en dat sy ma se veiligheid sy hoofprioriteit was. “Ek was egter geskok toe die polisie die patrone vir my wys.”
Valerie en KC meen dat God se hand duidelik tydens die voorval sigbaar was en dat hulle mekaar nou net nóg meer waardeer. “Ek is baie trots op my dapper seun wat kalm gebly het en op sy voete gedink het. Die bekamping van misdaad in Potgietersrus (Mokopane) is vir my en die VF+ van kardinale belang,” noem Valerie.
Die Byliefeldt-gesin bedank Marcelle Maritz, (Hooforganiseerder van die VF+ in Limpopo) vir haar ondersteuning asook SOS en die polisie vir hulle flink diens. Hulle doen ook ‘n beroep op die gemeenskap om paraat te wees.
Mokopane Polisiewoordvoerder, Sersant Irene Masingi sê: “Geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.”
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



