Boosdoener word op heterdaad betrap
'n Reaksie-offisier van Suricat Armed Response het Saterdag 'n booswig op heterdaad tydens 'n inbraak betrap.
MOKOPANE – Rassie Erasmus, reaksie-offisier, vertel hy het gaan ondersoek instel by ‘n huis in Thabo Mbekirylaan, nadat die bure die beheerkamer gekontak het.
“Ek het dadelik gesien die venster is gebreek, hulp ingeroep en stadig die huis inbeweeg. Die verdagte het onder die bed weggekruip met ‘n vleismes in die hand, ek het hom gesien, beveel om die mes te laat val en onder die bed uit te kom.”
Erasmus het hom in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig. Juwele wat deur die skurk gebuit is, is in sy sak gevind.
Volgens Erasmus was daar nog twee verdagtes betrokke by die inbraak, maar hulle het hom ontwyk.
“Ons weet reeds wie die booswigte is en dus is die polisie warm op hulle spoor,” sê Erasmus.
Die eienaar van die woning was nie tuis gedurende die voorval nie. Die ander twee verdagtes het die hasepad ingeslaan met goedere ter waarde van ongeveer R20 000.



