KUV 100 modelle: lig op brandstof, genoeg woema
Bosveld het met 'n toetsrit gou agtergekom daar is talle pluspunte wat dié K6 sportnutsmotor in sy prysklas 'n wenner maak.
MOKOPANE – Soek ‘n mens ‘n kompakte motor wat lig is op brandstof, maar ook oor genoeg woema en luukses beskik is een van Mahindra se splinternuwe KUV 100 modelle net die regte ryding om te hê.
Mahindra is nie verniet breëbors oor sy KUV 100 modelle – K4, K6 EN K8 – wat pas bekend gestel is nie ,want dit is allesbehalwe geharde bokserige en oninteressante motors. Bosveld het met ‘n toetsrit gou agtergekom daar is talle pluspunte wat dié K6 sportnutsmotor in sy prysklas ‘n wenner maak.
Die reeks bestaan uit vyf modelle wat die keuse van diesel- of petrolenjin bied. Die intreemodel is die K4 wat net in ‘n petrolenjin beskikbaar is. Daarna volg die K6 en die K8 wat die vlagskip is. Beide is in diesel en petrolenjins te kry.
Wat voorkoms betref is hierdie kompakte motor alles behalwe vaal. Die regaf neus en hoë enjinkap vang die oog, so ook die regop bakwerk wat effens hoër van die grond gelig is. Hoewel die stomp stert nie veel pakplek vir bagasie bied nie, kan dit vergroot word as die agtersitplek plat gevou word.
‘n Mens moet egter glad nie hierdie buksie onderskat nie. Hy is dalk nie veel groter as Chevrolet se Spark of die Hyundai Grant i10 nie, maar die ruimte is goed benut en ‘n mens kry glad nie die gevoel van beknoptheid nie. Wat opval is die instrumentpaneel wat nie die kajuit diep binnedring nie en dus vir genoeg spasie voor sorg. Die sitplekke sit gemaklik en die hoë dakhoogte is ‘n pluspunt so ook die slim wegsteekstoorplek.
Ander luukses waarmee die KUV 100 motors toegerus is, sluit in ABS met remkragversnelling, twee lugsakke, lugversorging en elektriese vensters. Die duurder modelle bied onder meer ook ‘n klank- en inligtingstelsel, Bluetooth-funksie en ‘n USB-prop, kontroles op die stuurwiel, asook atmosfeerbeligting by die deurhandvatsels. Aan die onderkant van elke deur is “poelligte” sodat jy kan sien waarin jy trap as jy in die donkerte uitklim. ‘n Spoedkontrole alarm waarsku as die gestelde spoed op die meter oorskry word. Die K8 het ook misligte en allooiwiele.
Die 1.2 liter enjin verras, want hierdie sportnutsmotor trek glad nie aan die kortste ent as dit by krag kom nie en versnel vinnig wanneer motors verbygesteek word of die langpad gery word. Die motor beweeg ook met gemak op grondpad.
Die K4 petrolenjin kos R149 995 en sluit nie ‘n diensplan in nie, terwyl die K6 diesel verkoop word vir R187 995 en die petrolenjin vir R169 995. Voeg daarby ‘n waarborg en diensplan van drie jaar. Vir die K8 petrol model gaan jy R179 955 opdok en vir die diesel R197 995.
Besoek gerus MGM Motors in Retiefstraat om die motors te besigtig of om vir ‘n toetsrit te reël. Kontaknommer: 015 4914011.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za




