Local NewsNews

Polisie veg onverpoos teen misdaadvlaag wat Limpopo teister

Ten spyte van die polisie se nimmereindigende pogings om misdaad in die provinsie hok te slaan, blyk dit dat misdadigers die mans en vroue in blou een voor is. Erge misdrywe soos gewapende roof en boendoegeweld, waar inwoners die reg in eie hande neem, is sedert verlede week regoor Limpopo aangemeld. Gewapende roof ‘n Inwoner …

Ten spyte van die polisie se nimmereindigende pogings om misdaad in die provinsie hok te slaan, blyk dit dat misdadigers die mans en vroue in blou een voor is.
Erge misdrywe soos gewapende roof en boendoegeweld, waar inwoners die reg in eie hande neem, is sedert verlede week regoor Limpopo aangemeld.
Gewapende roof
‘n Inwoner van Sterpark, Sydney Mohlola, is verlede Donderdagaand by die ingang van sy huis deur vier gewapende rowers oorval.
Polokwane polisiewoordvoerder, Ntobeng Phala sê niemand is nog in verband met hierdie aanval in hegtenis geneem nie. “Hy is voor die ingang van sy huis in De Wetrylaan deur die skurke beveel om uit sy voertuig te klim, maar hy het geweier. Die aanvallers het eers probeer om sy motorruit met ‘n klip uit te slaan, maar gefaal en drie skote deur die ruit geskiet om hom uit sy voertuig te dwing waarna hulle hom in die huis geforseer het,” sê Phala.
Mohlola is in die huis in die maag geskiet en vir dood agtergelaat. Die skurke het met bankkaarte, PIN-nommers en juweliersware op die vlug geslaan,” sê Phala.
Op die toneel het DA-raadslid, Frank Haas, ‘n beroep op die gemeenskap gedoen op by gemeenskapspolisiëringsforums (GPFs) aan te sluit. Johan Retters (vir Sterpark en Bendor) kan in die verband by 072 116 9396 geskakel word.
Intussen het die polisie ‘n soektog na agt gewapende rowers wat Maandag sekuriteitswagte in Ritavi buite Tzaneen beroof het, geloods. (Sien storie elders)
Boendoegeweld
In die nuutste voorval van boendoegeweld is twee Zimbabwiërs Maandagaand na bewe-ring in Boomstraat aangerand. Vermoedelik wou die twee nie vir die dienste van ‘n prostituut betaal nie, waarna hulle deur gemeenskapslede aangerand is.
Beide is glo ernstig beseer, maar Polokwane polisie se kommunikasiehoof, Ntobeng Phala kon nie die voorval bevestig nie.
Sondagoggend is die lyk van ‘n Zimbabwiese man in Disteneng gevind. “Sy identiteit is nog onbekend en dit lyk of hy aangerand is,” sê Westenburg polisiewoordvoerder, Naphuri Segobola.
‘n Polisievoertuig is verlede week deur lede van die gemeenskap in Siloam, Thohoyandou beskadig nadat die polisie moes ingryp om ‘n man te red wat deur ‘n boendoehof tereggestel sou word. Die man is glo van moord verdink.
‘n Man van Bangladesh is ongeveer twee weke gelede dood toe hy glo by die ontvoering van een van sy eie landsburgers buite Mokopane betrokke was. Die gemeenskap het hom vasgetrek en so aangerand dat hy beswyk het.
Die provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba het ‘n beroep op gemeenskappe gedoen om nie reg in eie hande te neem nie, gehoorsame burgers te wees, saam met die polisie te werk en met inisiatiewe om misdaad te bekamp, vorendag te kom.
“Wanneer die gemeenskap ‘n vermeende misdadiger sien, moet hulle dadelik die polisie in kennis stel of die verdagte arresteer en die polisie skakel. Om die verdagte aan te rand of dood te maak, is teen die wet. Daar is onlangs verskeie soortgelyke voorvalle aangemeld waar mense aan die brand gesteek is. Dit is onaanvaarbaar en dié tendens moet end kry.”
Polisie se optrede en suksesse
Gereelde operasies en veldtogte word deur die polisie op provinsiale- en stasievlak gehou om misdadigers aan te keer en gemeenskappe oor die gevare van dwelms en die onwettige aspek van boendoegeweld in te lig.
Tydens die naweek se operasie wat gefokus het op Thohoyandou, Hoedspruit, Groblersdal, Burgersfort, Bela-Bela, Dennilton, Letsitele en Seshego is 31 verdagtes wat as uiters gevaarlik beskryf word, aangekeer.
“Die verdagtes is gesoek vir verskeie misdrywe soos gewapende roof, huisbraak, diefstal, besit van onwettige vuurwapens en ammunisie sowel as die besit van dwelms. Drie ongelisensieerde vuurwapens, 130 rondtes ammunisie, 208 sakkies dwelms, 332 sakkies dagga, 35 daggaplante, elf selfone en kontant is gekonfiskeer,” sê provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe.
Hy sê die polisie sal gereeld operasies regoor Limpopo inisieer en het inwoners aangemoedig om onverwyld verdagte persone te rapporteer.
Intussen het die polisie verlede Woensdag vyf verdagtes wat vermoedelik ‘n gewapende roof wou pleeg in Sekhukhune vasgetrek.
“Die provinsiale opsporingeenheid het die mans wat van Tembisa afkomstig is, opgespoor en toegeslaan. ‘n Polisie-uniform, glimbaadjies, ‘n blou lig, sirene en ‘n vuurwapen is in hulle besit gevind. Die vier staar klagte van besit van ‘n onwettige vuurwapen, sameswe-ring om ‘n roof te pleeg en nabootsing van ‘n polisiebeampte in die gesig,” sê provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto.
Die vyf sou na verwagting Vrydag in die Sekhukhune Landdroshof verskyn het, maar die uitkoms van die verrigtinge was teen druktyd nie bekend nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto’s: Verskaf

Hooffoto: Vyf verdagtes wat vermoedelik ‘n rooftog wou pleeg, is verlede Woensdag in besit van ‘n polisie-uniform, glimbaadjies, ‘n blou lig, sirene en ‘n onwettige vuurwapen in Sekhukhune vasgetrek. 

Twee-honderd-en-agt sakkies dwelms en 332 sakkies dagga is tydens ‘n operasie gekonfiskeer.
Twee-honderd-en-agt sakkies dwelms en 332 sakkies dagga is tydens ‘n operasie gekonfiskeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button