Beweerde dief weer in hof
'n 27-jarige vrou wat na bewering verskeie inwoners se duur juwele gesteel het, het verlede Donderdag weer in die Mokopane Streekhof op 'n klag van bedrog verskyn.
MOKOPANE – Die verdagte wat vroeër die eienaar van ‘n bekende juwelierswinkel in die dorp was, het na bewering oor ‘n tydperk van 12 maande in 2014 meer as 10 kliënte se juwele tot die geskatte waarde van ‘n half miljoen rand gebuit.
Nadat die saak al oor ‘n lang tydperk herhaaldelik uitgestel is was die beskuldigde veronderstel om laas Donderdag te pleit, maar haar regsverteenwoordiger, Nicky Bosman, het beswaar aangeteken teen die klagstaat wat uitgelees is.
Bosman was van die mening dat die klagstaat vaag en verwarrend is omrede dit nie duidelik is of die klag ten aansien van die deposito’s wat destyds deur die verdagte ontvang is vervreem is en of dit gaan oor die juwele wat na bewering verkwansel is.
Nadat die saak twee keer afgestaan is weens Bosman se beswaar verlede Donderdag het Magistraat Gerhard Pretorius die saak na 25 Augustus, vir die beskuldigde om te pleit, uitgestel.
‘n Vertroulike bron het aan Bosveld genoem dat daar ‘n moontlikheid is dat die klagstaat wel op die dag kan verander.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



