DA-lid in spervuur
Die langmesse is uit vir die DA raadslid, Korny Dekker, weens beweerde dubbele lidmaatskap by die DA en Vryheidsfront Plus en sy oorweging om verlede jaar oor te stap na die VF+ saam met Marcelle Maritz.
MOKOPANE -Met die munisipale verkiesing op die drumpel beweer adv. Anton Alberts, VF+ se leier in Gauteng, dat Dekker nog tot onlangs lid van die VF+ was.
Alberts het in ‘n nuusverklaring heftig gereageer op ‘n Facebook inskrywing van Dekker waarin hy sy VF+ lidmaatskap ontken. Hy sê benewens die VF+ lidmaatskapvorm wat Dekker al in April 2014 volledig ingevul het, het Dekker verlede jaar gevra om hom te ontmoet.
Dekker het toe aan hom vertel hoe hy nie meer met die beleid van die DA kan saamleef nie, dat die party mense wil uitstoot ter wille van hulle nuwe swartkiesersmark en hy geen toekoms vir hom daar sien nie.
Alberts beweer verder Dekker het aan hom gemeld dat die situasie in die DA reeds sedert 2014 vir hom so onhoudbaar geword het dat hy self vir die VF+ gestem het waar hy gewerk het tydens dié verkiesing. “Sodoende het hy ons oortuig dat hy reeds ‘n VF Plusser in hart en siel is.”
Dekker erken hy het in 2014 ‘n lidmaatskapvorm voltooi, maar sê hy het nooit aansluitingsgeld betaal nie. Hy het dit wel verlede jaar sterk oorweeg om na die VF+ oor te gaan weens bestuurprobleme in die DA. Hy erken hy het in Augustus verlede jaar ‘n lang gesprek met Alberts gehad, maar sê hy het slegs sy ontevredenheid uitgespreek oor die bestuur van die DA in daardie stadium.
“Na die gesprek het ek egter besef die VF+ loop met oogklappe rond. Ek het lank oor alles gedink en Alberts laat weet ek stel nie meer belang om oor te gaan nie.” Hy ontken ook dat hy vir die VF+ gestem het.
Dekker vertel aan Bosveld hy het teenoor Desireé van der Walt, die ondervoorsitter van die party in Limpopo, gebieg oor sy intensies en oop kaarte gespeel nadat hy vir Alberts gesê het hy gaan nie meer oorstap nie. “Ek het soos ‘n verraaier gevoel en besef ek kan nie mense in die rug steek nie. Ek het aan Desireé genoem dat as die leierskap van die DA van my wil ontslae raak, sal ek dit so aanvaar. Desireé het met die res van die provinsiale leierskorps gesels en my laat weet hulle staan agter my.”
Dekker het op 14 Julie ‘n e-pos na die VF+ gestuur waarin hy sê hy het ‘n vorm voltooi, maar geen lidmaatskapgeld betaal nie.
“Indien dit enigsins op u lidmaatskap wys dat ek wel ‘n lid is, dien hierdie as ‘n skriftelike kennisgewing om my as lid te verwyder.”
Daarna het hy ‘n soortgelyke inskrywing op sy Facebookblad gedoen.
Alberts sê aansluitingsgeld is nie ‘n vereiste om lid van die VF+ te word nie en gemeet aan Dekker se gedrag sal die party hom nooit weer vertrou nie.
“Die vraag is of die kiesers van Potgietersus kan? In die politiek is sulke gedrag onaanvaarbaar, aangesien kiesers en die publiek eerlikheid verwag van hulle gekose ampsdraers.”
Dekker sê hy het met sy ontmoetings met Mmusi Maimane besef hoeveel waardes dié DA leier het en dat Maimane ook oor integriteit beskik. “Ek is verlig om te weet ek is deel van die regte party.”
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za




