Lekker feesjolyt by die KierieklapperKunstefees
Die KierieklapperKunstefees skop vandag (Woensdag) af vir vier dae se pret en plesier.
MOKOPANE – Die vermaak is weer op Hoërskool Piet Potgieter se rugbyveld waar die feesterrein nie net gevul gaan word met die musiekklanke en opvoerings van bekende kunstenaars nie, maar ook met talle stalletjies.
Kom smul aan die heerlike eet- en drinkgoed en loer na die groot verskeidenheid ware in die stalletjies.
Die gewilde pretpark is weer tot laataand oop en daar kan ook heerlik gekuier word in die wyn- en biertuin.
Vir die sportliefhebbers is daar ‘n gholfdag by die Kameeldoringgholfklub en ‘n pretdraf wat Saterdagoggend vroeg by die feesterrrein begin en weer daar eindig.
Dié fees is die Dienssentrum vir Bejaardes se grootste fondsinsamelingsprojek en die bestuur en lede maak staat op die gemeenskap se lojale ondersteuning.
Die toegangsgeld vir die fees is as volg:
• Woensdag en Donderdag R60 en Vrydag R80 per persoon.
• Saterdag se kaartjies beloop R100 terwyl laerskoolkinders slegs R50 per persoon betaal.
Toegang is gratis vir voorskoolse kinders.
• ‘n Naweekbandjie beloop R250 vir volwassenes en R150 vir laerskoolkinders.







