‘Totsiens, Tok Patterson’
Die kreatief-kunstige en geliefde inwoner, Tok Patterson is Sondag op 74-jarige ouderdom, na 'n dapper kankerstryd in die Lydenburg Ouetehuis oorlede.
MOKOPANE – Patterson was vir meer as ‘n dekade ‘n inwoner van Mokopane en is bekend vir sy pragskilderye in besonder sy kunswerke van visarende. Hy het in sy vroeër jare as gemeenteleier en priester by die Nuwe Apostoliese Kerk gedien en was ook ‘n lid van die Mokopane Kunsteforum.
Laerskool Krugerpark se standbeeld van die visarend is ook sowat drie jaar terug deur Patterson kleurvol opgeknap. Buiten sy liefde vir kuns het hy ook ‘n passie vir musiek gehad en het hy graag op sy kitaar getokkel.
Sy dogter Paula, beskryf hom as ‘n aardse engel wat altyd almal met ‘n glimlag gehelp het.
Patterson laat ‘n groot leemte na en sy vrou Hettie, hulle drie kinders, sewe kleinkinders en een agterkleinkind mis hom baie.
Patterson word Saterdag (20 Augustus) vauit die Nuwe Apostoliese Kerk op die hoek van Rabe- en Krugerstraat om 10:00 te ruste gelê.
Die familie bedank Laerskool Krugerpark, die knap personeel van Lydenberg Ouetehuis en die gemeenskap en vriende vir hulle ondersteuning en bystand.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



