Boosdoener betrap hy HPP
'n Beweerde dief, wat Sondagmiddag toegang tot Hoërskool Piet Potgieter se kantoor verkry het deur 'n venster te breek, is danksy die flink optrede van Suricat Armed Response inhegtenis geneem.
MOKOPANE – Volgens Suricat, het die verdagte die alarm geaktiveer en Carl Compaan, reaksie-offisier, het tot aksie gespring en in samewerking met die Valke buurtwag die boosdoener in sy spore gestuit.
Waarnemende Skoolhoof, Cas Badenhorst, vertel die verdagte het twee vensters in sy kantoor gebreek en só toegang verkry.
“Suricat was vinnig op die toneel en ek het by hulle aangesluit. Die verdagte het probeer wegkruip, maar na ‘n deeglike ondersoek, is hy vasgetrek.”
Hy vertel verder die omvang van die skade is sowat R5 000, want die verdagte het ook die alarmstelsel beskadig.
Hy bedank Suricat en die Valke Buurtwag vir hulle vinnige optrede.
Volgens Mokopane Polisiewoordvoerder, sers. Irene Masingi, word ‘n saak van poging tot diefstal ondersoek.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



