POLOKWANE – Die eienaar van Bona Manzi Eugene Meyer, en sy vrou, Tho, vertel van hul 15 minute van hel…
“Daar is heeldag kliënte in en uit, dit was aanvanklik wat ek gedink het die twee mans wie met my gesels het ook was. Terwyl ek met hulle gesels het, het die klokkie weer gelui en nog twee mans het ingekom. In ‘n oogwink het die mans vuurwapens op my en my vrou gerig en ons het tot die yskoue besef gekom dat dié mans nie blote kliënte is nie”.
Hy vertel dat die mans hom vasgebind en ‘n stuk lap in sy mond gedruk het. Hulle het sy vrou ook vasgebind en met ‘n elektriese koord gewurg.
“Dit was ‘n vreeslike ervaring. Ek was bang hulle gaan my vrou verkrag of ons doodmaak. Dit was 15 minute van hel,” vertel ‘n ontstelde Meyer.
“Ek het die heeltyd gebid. Hulle het geld gesoek en vir ons gesê hulle gaan ons doodmaak. Die mans het my aangerand en toe in ‘n kamer toegemaak en aangedring dat my vrou vir hulle die sleutels na die kantoorarea gee. Nadat hulle na die kantoorarea is kon Tho die deur agter hulle sluit en hulp ontbied.”
MeyerDie voorval het kort voor 10:00 gebeur en Meyer kon sy seun kontak vir bystand. Die rowers het die toneel gevlug met kontant, selfone, ‘n skootrekenaar en juweliersware.
Polisie kommentaar oor die aanval is nog nie beskikbaar nie.




