Bosveld NewsLocal NewsNews

AfriForum sleep muni hof toe

Die swak toestand van die vullisterrein op Mookgophong het AfriForum genoop om die Hoogeregshof vandeesmaand te nader vir regsaksie teen die Mookgophong Munisipaliteit.

MOOKGOPHONG -Die burgerregteorganisasie, AfriForum sê die vullisterrein voldoen nie aan die wetlike vereistes soos voorgeskryf deur die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Vullis 2008 wetnommer 59). Dié aansoek is beteken op Ombali Sebola (waarnemende munisipale bestuurder), Nomvula Mokonyane, (minister van water en sanitasie), Stan Mathabatha (Premier van Limpopo), die Waterberg Distriksmunisipaliteit, Bomo Edna Molewa, (Minister van omgewingsake én ‘n lid van die uitvoerende raad van die Limpopo provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme.

Volgens dié hofaansoek moet die bogenoemde respondente voor of op 30 Augustus ‘n formele kennisgewing indien as hulle die saak gaan teenstaan, waarna hulle binne 15 dae hulle opponerende stukke moet liasseer. Indien hulle dit nie doen nie, sal die hofaansoek onbestrede op 20 September voortgaan.

Dít volg nadat die burgerregtewaghond vroeër vanjaar ‘n vullisterreinoudit op die plaaslike vullisterrein in Mookgophong gedoen het en ‘n verslag oor dié terrein van ‘n deskundige bekom het. Dié verslag dui aan dat die plaaslike vullisterrein nie aan die wetlike vereistes voldoen nie.

“AfriForum was genoop om toetse te onderneem om die gehalte van die afloopwater te bepaal omdat dié vullisterrein in so ‘n swaktoestand is. Dié uitslae het getoon dat die afloopwater geensins aan die minimumvereistes voldoen soos uiteengesit in die Nasionale Water Wet (Wetno. 36 van 1998) nie,” sê Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo.

Volgens Philip van Staden, voorsitter van die AfriForum-tak op Mookgophong, is dié hofstukke op die Mookgophong Munisipaliteit beteken vóór die 2016-verkiesing, met die implikasie dat die nuwe munisipale bestuur en raad van die Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit steeds verantwoordelik is om te verseker dat die verpligtinge in terme van wetgewing oor die vullisterrein nagekom moet word. “In die nabye toekoms gaan die Mookgophong en Modimolle Plaaslike Munisipaliteite saamsmelt met die gevolg dat die nuwe saamgesmelte munisipale bestuur en raad hierdie verpligtinge weer gaan oorneem.”

Van Staden sê voorts dat die verkryging van ‘n hofbevel slegs die eerste stap in die regsproses is en indien die respondente nie aan hierdie hofbevel gehoor gee nie, AfriForum geen ander keuse het nie as om die hof te nader met ‘n aansoek van minagting vir die gevangesetting van die respondente.

Die nuwe munisipale bestuurder én die nuwe munisipale raad van die betrokke munisipaliteite sal bygevoeg word by dié hofaksie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button