Drukkie vir ‘n blikke-projek
Marcelle Maritz, VF+ Raadslid bemoedig inwoners om 'n blikkieskos of tien te skenk voor 2 September.
MOKOPANE – Marcelle Maritz, VF+ Raadslid, het onlangs die ‘Drukkie vir ‘n blikkie’-projek op die been gebring ten bate van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) en die Mokopane Noodforum.
Maritz vertel sy het die behoefte by albei die liefdadigheidsorganisasies raakgesien en dit het haar aangemoedig om tot aksie te spring.
“Die SAVF en die Mokopane Noodforum help daagliks ‘n menigte behoeftige mense, maar hulle is afhanklik van donasies. Ek het verskeie skole, sekuriteitsfirma’s en Debtsafe in die dorp by die inisiatief betrek en hulle uitgedaag om ‘n blikkieskos of tien te skenk voor 2 September.”
Maritz sê die gemeenskap is welkom om blikkieskos by die Bosveld Review se kantoor in 24A Van Riebeeckstraat te kom aflaai en só die projek te ondersteun.
Vir verdere inligting kontak Maritz by 078 617 8682.



