Langpad bring genesing
Die 29-jarige Andrea Ferreira kyk met rooskleurige lense na die lewe nadat sy 'n byna noodlottige motorongeluk op 7 Oktober 2012 oorleef het.
MOKOPANE -Andrea het veelvuldige frakture opgedoen onder meer haar eerste en tweede nekwerwel, haar skedel was erg beseer, sy het haar kakebeen op twee plekke gebreek en haar gehoor in haar linkeroor verloor.
Andrea het vir twee maande in die hospitaal aangesterk en weens haar nekbesering was sy vir ‘n maand en ‘n half nie instaat om haar kop op te lig nie.
“Die moontlikheid dat ek nooit weer sal kon loop nie was vreesaanjaend en net daar het ek vir die eerste keer werklik besef wat dit beteken om die alledaagse as vanselfsprekend te aanvaar,” vertel Andrea.
Andrea moes weer van voor af leer loop en sy sê daardie eerste tree na haar ongeluk sal sy vir ewig onthou.
“Trane van blydskap en dankbaarheid het oor my wange gestroom.”
Na agt maande en teen my fisioterapeut se beterwete het ek stadig maar seker begin oefen. My doelwit was om ‘n half marathon te voltooi. Ek moes steeds ‘n nekstut dra en het wel soos Robocop gelyk. Die eerste wedloop waarvoor ek na die ongeluk ingeskryf het was ‘n 6 km wat ek gestap het. Met die hoofpyn, naarheid en konstante pyn waaraan ek gely het wou ek ‘n paar keer handdoek ingooi, maar na elke oefening was ek meer gemotiveerd om die uitdaging te oorwin.”
Sy vertel verder dat die dag toe die dokter uiteindelik gesê het sy kan die nekstut afhaal, het sy dit gevier deur vir haar eerste 10 km wedloop in te skryf en sy het dit teen haar eie pas voltooi. In November 2013 het Andrea haar eerste half marathon kaf gedraf en vandaar het sy nog nie weer teruggekyk nie. In 2015 het sy haar staal in die Rudamans Kaapsehoop marathon gewys en dié jaar het sy haar eerste ultra-marathon voltooi.
Andrea sê haar tweeling suster, Cecilia, haar familie, vriende en die lede van die Potties-Atletiekklub het haar deurentyd ondersteun en in haar bly glo.
“Tannie Sarie Coetzee het deur tough love my aangespoor om aan te hou en elke uitdaging te oorwin.”
Estie Potgieter, ‘n fisioterapeut by Tri-Physio in Bloefontein, sê dit is ongekend dat iemand met so tipe besering tot op so ‘n vlak herstel dat hulle aan marathonne kan deelneem. Andrea se raad aan ander is: “Jy moet leer om die negatiewe gedagtes te bowe te kom en jouself as ‘n oorwinnaar te sien. Moet nooit ophou hoop nie”.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za




