Bosveld NewsNews

Mokopane se speelparke kry elk ‘n nuwe baadjie

Die inwoners se hulp word opreg waardeer en met al die samewerking kan die dorp weer met 'n spogstatus pronk," vertel DA Raadslid Korny Dekker.

MOKOPANE – Om in die dorp se parke te kan skoppelmaai was vir lank nie vir die kleinspan beskore nie, maar danksy die inisiatief van Mokopane se twee DA Raadslede kan daar nou na hartelus baljaar word op die verskeidenheid speeltoerusting.

Die parke het ‘n splinternuwe baadjie aangetrek nadat Korny Dekker en Yolandé Coetzee met ‘n projek vorendag gekom het waar die parke aangeneem kan word deur individue of besighede wat dan sorg dat die parke netjies instand gehou word. Dekker en Coetzee bedank diegene wat reeds van die parke ‘aangeneem’ het, maar wys daarop dat hulle nie genoeg fondse het om die inisiatief te voltooi nie. Hulle doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle harte en hul beursies vir dié goeie doel oop te maak.

“Ons wil graag voor die lente in volle gang is al die parke herstel,” sê Dekker. “Om die projek te voltooi benodig ons kettings, olie basis verf (rooi, geel, blou en groen), termietgif, verfkwaste, sand en 220 lt dieseldromme. Die inwoners se hulp word opreg waardeer en met al die samewerking kan die dorp weer met ‘n spogstatus pronk,” vertel Dekker.

Indien lesers ‘n hand wil bysit, kan hulle Coetzee by 079 273 7986 of Dekker by 082 878 1502 kontak.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button