Bosveld NewsNews

Die lente bring weer sy eie, nuwe uitdagings

REDAKTEUR SE INK: Die lug is oop en blou en 'n vars lentebriesie waai.

Loer ek by my kantoorvenster uit is die bome se bloeisels rooi, oranje, pienk en geel en ek sien die mense se stewels het plek gemaak vir ooptoonsandale. As ek my pa glo moet ek eers wag vir die eerste lentereëns. Dit is nou om al die winter se kieme en goggas dood te maak voordat ‘n mens in die swembad lyf natmaak.

Die jaar is oor die halfmerkkerf en daar is nog baie wat moet gebeur voor Kersvader opdaag. Die verkiesing het gekom en gegaan en ons het verskeie geleenthede en veldtogte van partye en hulle ondersteuners bygewoon, behoorlik rond gekyk, geluister en ingeneem wat die sê wat bo sit en ook wat die gewone man op die straat voel en dink.

Met nabetraging besef ek daar is diegene wat kwaad is vir Apartheid en als doen om dit te smoor, maar terselfdetyd dit vervang met hulle eie Apartheid, want ware vergifnis het hulle nog lank nie gekry nie. Daar is ook inwoners wat swaar sluk aan politieke verandering en als sal doen om ‘n ou Suid-Afrika in Potties te laat herleef. Laastens is daar die groep inwoners wat saam oplossings probeer vind en respek toon vir mekaar se kultuurverskille en sienings.

Politiek bly maar vir my ‘n nare spel en in my geestesoog sien ek die Duitsers se gaskamers met Hitler wat hiet en gebied en ‘n nasie wat doen, so ook Uganda se diktator, Idi Amin, die terroris, Bin Ladin, die erge burgeroorlog in Rwanda tussen die Hutu en Tutsis en ons eie bos-oorlog in die apartheidsjare. Ek sê altyd: Wys my iemand wat al ooit ‘n oorlog gewen het. Daar is net verloorders”.

Saam met die lente kom ‘n vrou wat pas aangestel is as die dorp se eerste burger. Dit is moeilik om ‘n onderhoud met Mokopane se nuwe eerste burger, Andrina Matsemele te kry en haar antwoorde op vrae is nie altyd wat ‘n mens sou verwag nie, maar die hoop beskaam nie. ‘n Mens kan maar net vertrou haar skouers, hart en visie sal groot genoeg wees om die dorp vorentoe te vat sonder korrupsie en munisipale onluste.

Mokopane worstel steeds om uit hierdie donker gat van selfvernietiging te kom wat talle besighede erg geknou het. Voeg daarby die toename in misdaad, armoede en die gesukkel van die Mokopane Noodforum en die Percy Fyfe Dierebeskermingsverenigng om hulle deure oop te hou.

Op ‘n positiewe noot is daar die dankbare harte van die lede van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes, wat danksy die KierieklapperKunstefees die sentrum se wiele aan die rol kan hou.

Met die koms van ‘n vars kleurvolle seisoen hou ons styf duim vas dat die ekonomie in ons dorp weer sal begin blom saam met die verdraagsaamheid, respek en omgee in ons harte vir ons medemens.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button