Bosveld NewsNews

Goue glorie vir drawwers

DIE lede van die Potties-Atletiekklub het verlede naweek in groot getalle aan die sesde Hout is Goud Dagbreker Sirkelwedloop in Bela-Bela deelgeneem en saam talle km's plat gedraf en gestap om te sorg vir 'n ryk medalje-oes.

MOKOPANE – Dié unieke wedloop is ‘n liefdadigheidsgeleentheid vir Hout is Goud wat twee huise in die omgewing het, waar hul mense in nood ondersteun. Die wedloop dien ook as ‘n kwalifiserende wedloop vir die Comrades Marathon.

Die gedugte spanne van die Potties-Atletiekklub het ten spyte van die warm Bosveldson en die sterk winde, spogprestasies verwerf. Die twee kilometer roete gaan reg rondom die kantore en gholfbaan by die Klein Kariba Vakansieoord en die atlete het hier hulle staal in span verband gewys. Dié klub het ook die prys vir die meeste inskrywings opgeraap en Estelle Geerkens en Lindie Holtzhausen is as beste vrouespan vereer, so ook Daleen van Zyl en Carol van der Walt in die stapafdeling.

Atlete verwerf ‘n goue medalje as hul meer as 80 km in die 12 ure voltooi het, ‘n silwer medalje as hul 60 km kaf gedraf het en ‘n brons medalje as hul 40+km voltooi het.

Potties-Atletiekklub het die volgende prestasies behaal: Geerkens en Holtzhausen het altesaam 116 km voltooi, Sarie Coetzee en Cecilia Ferreira (100 km), Andrea Ferreira en Tasneem Omar (84 km), Annemari Kruger en Gert Pretorius (80 km), Elmarie en Carmen Badenhorst (84 km), Khatija Essack en Aubrey Baloyi (80 km). Van Zyl en Van der Walt het altesaam 86 km gestap en Charlotte Moller spog met meer as 80 km op haar kerfstok. Cas Badenhorst en Wihan Geerkens het 66km votlooi, Farhana Seedat en Fozia Issufo het 60 km gestap en Gustav en Miemie van der Merwe het 40 km voltooi.

Die lede sê dit was ‘n ongelooflike ervaring en dat hulle die uitdaging verseker weer volgende jaar gaan aanpak.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button