Spinasie vir die nasie nou haar inspirasie
"WANNEER jou planne nie uitwerk nie, moet jy soek na iets goeds in die situasie en glo dat waar God 'n deur toemaak, maak hy weer een op 'n ander plek oop."
MOKOPANE – Hierdie is die wyse woorde van Sonja du Toit ‘n boorling van Mokopane wat vandag ‘n vaardige tonnelboer en die eienaar van The Green House is.
Sonja was vir jare ‘n klerk tot haar seun ‘n paar jaar terug met sy gesondheid gesukkel het en sy besluit het om na hom te kyk. Sy vertel dat die stilsit by die huis haar teen die mure wou uitdryf.
“Vriende van ons het vir my die raamwerk van ‘n tonnel geskenk en só het ek en my man, Hannes, die tonnel opgerig en spinasie, spanspek en waatlemoen geplant. Vandaar het die tonnelgogga my behoorlik gebyt en ek het aan ‘n tweede tonnel begin beplan.”
Sonja het aan die begin van die jaar altesaam 6200 spinasiesaadjies in haar yslike nuwe tonnel oor vier dae met haar eie hande geplant en sê dit sal in volle produksie wees teen einde van die maand.
Die spinasie is organies, so daar is geen hormone of gifstowwe gespuit nie. “Daar is sowat 1 000 erdwurms in elke spinasiekas en hulle maak lugtonnels wat verseker dat die spinasie beter groei,” noem sy.
Sonja vertel sy en Hannes het eiehandig die tonnel aanmekaar gesit asook die kaste waarin die spinasie geplant is en dat hulle, met die hulp van een werknemer, die spinasie bewerk en verpak vir verkope. “Ek het nog altyd ‘n passie vir tuinmaak gehad.
“My ma is ‘n vaardige tuinier en ek glo ek het my gawe by haar geërf.” Sy sê sy sou nooit kon dink dat dié droom so vinnig sou realiseer nie. Sy het haar moue opgerol en intensief haar organiese spinasie by verskeie besighede en inwoners in die dorp bemark en vandag spog sy met ‘n paar getroue kliënte. Haar droom is om eendag aan Woolworths te verskaf. Sonja sê sy glo in haar produk en dat klante die spinasie met gerustheid vir tot 14 dae in die yskas kan stoor, dit behou sy kwaliteit.
Sy vertel met groot opgewondenheid dat daar nog ‘n tonnel in die pyplyn is en dat sy moontlik komkommer gaan plant.
Lesers kan haar Facebookblad, The Green House, volg vir meer inligting of kontak haar by 083 338 2099 en plaas jou bestelling.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za




