AfriForum neem aksie na UV deure toemaak
AfriForum het reeds 'n versoekskrif van stapel gestuur waarby ouers hul besonderhede kan voeg om deel te vorm van 'n regsaksie teen universiteite waar studente te na gekom is.
MOKOPANE – Spanning loop tans hoog by verskeie universiteite regoor die land weens die #Feesmustfall betogings wat onlangs weer opgevlam het en om dié rede was van die universiteite genoodsaak om hulle deure vroeër vir die Septembervakansie te sluit.
Die gevolg daarvan is egter uiters kommerwekkend, want met die einde van die jaar wat in sig is, is die vraag gestel of studente wel gaan graad vang?
Volgens ‘n mediaverklaring gaan AfriForum ‘n klasaksie inisieer teen universiteite wat weens hul versuim en nalatige optrede daarvoor verantwoordelik gaan wees dat betalende studente moontlik nie hul akademiese program vir 2016 sal kan voortsit nie.
AfriForum het van verskeie bronne verneem dat universiteitsbesture ondanks interdikte wat teen betogende studente bekom is, steeds opsetlik versuim om dié interdikte af te dwing. Dié optrede is die direkte oorsaak dat duisende studente buiten finansiële skade, ook ‘n verlies aan onderrigtyd ly. Daar is ‘n wesenlike moontlikheid dat studente vanjaar se studies volgende jaar sal moet voortsit.
AfriForum het reeds ‘n versoekskrif van stapel gestuur waarby ouers hul besonderhede kan voeg om deel te vorm van ‘n regsaksie teen universiteite waar studente te na gekom is.
AfriForum het universiteite by verskeie geleenthede versoek om dissiplinêre stappe teen die geïdentifiseerde belhamels te neem en daardie studente se studies op te skort en hulle toegang tot kampusse te verbied. Universiteite ignoreer die versoeke en laat voortgesette geweld op kampusse toe.
“Ons het gesien hoe die geweld op kampusse toeneem en selfs tot die dood van ‘n werknemer gelei het. Dit is onaanvaarbaar dat universiteite toelaat dat studente aangerand, geïntimideer en geviktimiseer word net omdat hulle klas toe wil gaan. Die universiteitsbesture moet nou verantwoordelikheid neem vir hul gebrek aan optrede,” sê Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder.
‘AfriForum het reeds met sy regspan gekonsulteer en is tans besig om die name en verdere besonderhede van ouers en studente in te samel wat deel van die klasaksie teen verskeie universiteite sal vorm,” sê Charles Castle, AfriForum se regs- en risikokoördineerder.
Lesers kan die petisie ondersteun deur die skakel te volg: https://afriforumjeug.co.za/universiteitsbesture-laat-ons-studente-vrede-studeer/.
Bosveld het met ‘n paar ouers wie se kinders tans deur die betogings geraak word gesels
Emile en Sanel Honiball, se oudste dogter Marsha is tans ‘n student by die Universiteit van Pretoria, en hulle sê: “Ons is eerstens bekommerd oor ons kind se veiligheid en dan wek die feit dat hulle moontlik nie die sillabus gaan kan voltooi nie kommer. Die onsekerheid is ‘n groot kopseer. Indien die betogers ‘n geldige standpunt het, is ons van mening dat dit nié nodig is om dit op ‘n geweldadige wyse af te dwing nie.”
Henriëtte Uys se dogter, Dedré studeer by die Universiteit van die Nood-Wes (Pukke). Henriëtte sê sover is ons nog gelukkig, want die kampus is nog in vollegang, maar as ‘n ouer sal ‘n mens altyd bekommerd wees oor jou kind se veiligheid. “Ek dink die universiteite moet streng genoeg optree om die oproering te voorkom.”
Jopie Potgieter is ‘n finale jaar student by die Universiteit van die Vrystaat en hy sê dit is uiters senutergend om te dink dat hy moontlik weens die betogings nie sy graad gaan kan vang nie, veral omdat hy reeds ‘n kontrak geteken het om op 16 Desember te begin werk.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



