Bosveld NewsNews

Reën speel raai, raai riepa in dorp

Wolke wat in Mokopane se lugruim rondsweef het nog nie behoorlike lentereën gelewer nie

MOKOPANE – ‘n Paar welkome lusmakerdruppels het Woensdagmiddag neergestort en het Bosveld is weer herinner dat die landswye droogte sy tol eis.

Boere hier in Mokopane en Mookgophong, asook regoor Afrika trek die afgelope paar maande swaer en nou is die diereryk van die Kruger Nasionale Park ook onder gedrang. Wildbewaarders van hiérdie wildlewepark het vandeesweek aangekondig dat sowat 350 seekoeie en buffels se lewens in gevaar is en dalk uitgesit gaan word as gevolg van die uitgerekte droogte. Volgens die park het die droogte ‘n tekort aan voeding vir die diere veroorsaak, maar daar is tans nog genoeg water. Hul nommer een motief vir hierdie drastiese aksie is om die diere van pyn en lyding te red.

Suid-Afrika is in ‘n wurggreep wat nie binnekort gaan verdwyn nie, en boonop is daar nou groot druk op almal omdat inflasie aanhou hoogtes klim, danksy die droogte.Verdere gevolge van vanjaar se droë maande is damvlakke wat val tot en met 53%.

Verlede jaar was ook die droogste jaar in die land se geskiedenis sedert 1904. Waterbeperkings is in verskeie stede landswyd reeds ingestel en alle burgers van ons mooie land staar ‘n moontlikheid van voedsel- en watertekorte in die gesig.

‘n Weervoorspelling vir die komende maande wys ‘n ondergemiddelde reënval, maar voorsitter van die droogte taakspan Des van Rooyen sê dat dit nog nie nodig is om die droogte as nasionale ramp te verklaar nie.

Intussen hou Bosveld duim vas dat die hemel sy sluise groot sal oopdraai.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button