Bosveld NewsNews

Verbruikersake: Só word jy ingeloop

BOSVELDTELESKOOP: Maak gou jou vrieskas oop en kyk na daardie bevrore hoenderporsies. Altesaam 30% of selfs meer daarvan is bevrore pekelwater.

Dis reg ja, vir elke R10 rand wat ‘n mens op bevrore hoender spandeer, kry jy net R7 se vleis en vel en bene. Trek die massa van die bene af en die werklike hoendervleis wat jy koop, se waarde is nader aan R5, maar u betaal steeds R10 daarvoor.

Op 22 Oktober gaan die prentjie egter effens verander. Dan moet pekelwater na ‘n maksimum van 15% verminder word. Vir R10 gaan jy dan darem so R6.50 se vleis kry. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het natuurlik hewig teengestribbel en selfs ‘n hooggeregshofsaak oor die nuwe regulasie verloor, want om pekelwater te produseer, is mos sommer baie meer winsgewend as hoendervleis self. Wees dus op die uitkyk vir hoender “specials” in supermarkte tot 22 Okt. Onthou egter dat ‘n mens steeds omtrent 50% se vleiswaarde inboet, ongeag die veronderstelde winskoopprys daarvan.

Al ooit gewonder waarom winkels hul rakke pak en items plaas soos hulle dit doen? Verbruikerskooppatrone is een van die onderwerpe wat tot nog toe die intensiefste nagevors is. Wanneer laas het jy brood naby die kasregister gesien, of ander stapelvoedsel produkte aan die voorkant van die winkel? Waarom word daar altyd sjokolade by ‘n kasregister uitgestal? Is daardie “spesiale aanbiedings” werklik so spesiaal of het dit ten doel om ‘n mens die winkel binne te lok. Hoekom word die duurder item altyd op ooghoogte uitgestal en die goedkoper een iewers daar onder weggesteek? Kyk gerus ook na die inhoudsmaat van produkte wat jy gereeld koop. Die prys het dieselfde gebly, maar die massa het dikwels verminder. ‘n 10 kg sak hondekos word skielik 8 kg of 2 kg word 1,5 kg, terwyl ‘n blikkie 170 gm tuna verander na 140 gm om maar enkele voorbeelde te noem. Duurder kase en vleis se pryse word ook nou per 100gm aangetoon. R20 per 100gm klink nie naastenby so skrikwekkend as R200 per kg nie.

Die brood en melk doer agter het ten doel om ‘n mens by al die ander items te laat verbyloop in die hoop dat jy koop-impuls gesneller gaan word. Dan word ‘n mens ook op pad daarheen met afslagpryse teen die rakke bombardeer. Terwyl jy by die kasregister jou beurt afwag, word daar dikwels impulsief van daardie sjokolade gekoop, of net sodat boetie se geneul vir ‘n soetdingetjie kan ophou.

Dit het al gebeur dat ‘n “special” voor en daarna goedkoper is, of dat dit deurgaans goedkoper by ‘n ander winkel te kry is. Wie wil nou hurk om iets op die laagste rak uit te grawe? Dis mos baie gemakliker om dit sommer op ooghoogte te gryp. Solank daar nie aan die prys gekarring word nie, let kopers nie werklikwaar op na die inhoudsmaat nie.

In Desember verlede jaar het ‘n lidmaat by my kerk ‘n skenking vir Kersgeskenkpakkies vir bejaardes gemaak. In samewerking met die SAVF het ons ‘n lysie van 23 daaglikse verbruiksitems wat in elke huishouding gebruik word, opgestel. Ek het dit toe by drie supermarkte in die dorp gaan prys en die goedkoopste by elkeen aangekoop. By Pick ‘n Pay was dit drie, by Spar vyf en by Shoprite Checkers ‘n hele 15.

Dus, kyk maar rond en wees bedag daarop dat enige besigheid dit ten doel stel om maksimum wins te maak deur nagevorsde kopersgedrag uit te buit. Kopers moet maar lig loop vir winskopies wat dit nie werklik is nie. Met die stand van die huidige ekonomie is dit belangrik om maksimum waarde vir jou geld kry.

corinusdutoit_72651

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button