Local NewsNews

Muni, oudwerker skik na 12 jaar

‘n Skikking is onlangs na 12 jaar tussen Hennie Retief en die Polokwane Munisipa­liteit bereik nadat Retief in 2004 ‘n saak van onbillike arbeidspraktyk teen die munisipaliteit geopen het. Die jare lange stryd het twee arbitrasies en twee hersienings in die hof ingesluit en die saak het uiteindelik in die hooggeregshof gedraai waar Retief die …

‘n Skikking is onlangs na 12 jaar tussen Hennie Retief en die Polokwane Munisipa­liteit bereik nadat Retief in 2004 ‘n saak van onbillike arbeidspraktyk teen die munisipaliteit geopen het.
Die jare lange stryd het twee arbitrasies en twee hersienings in die hof ingesluit en die saak het uiteindelik in die hooggeregshof gedraai waar Retief die saak verloor het. Hy het hom egter tot die appélhof gewend.
“Retief het na 12 jaar ’n klein bietjie ge­regtigheid gesmaak,” sê sy prokureur, Dawid de Villiers. Retief het van Fanie van Jaarveld, ‘n advokaat en emeritus professor se dienste gebruik gemaak om sy saak in die hoër howe te hanteer.
Retief het in 2004 ‘n grief gelug oor wat hy as onbillike arbeidspraktyk beskou het. Volgens hom is hy oor die hoof gesien vir bevordering en iemand anders is na bewering tot adjunkhoof van die verkeersafdeling bevorder sonder om oor die vereiste kwalifikasies en ondervinding te beskik. Na die aanstelling is van Retief verwag om die nuwe adjunkhoof op te lei.
“Die Bedingingsraad se voorskrifte oor die vereiste kwalifikasies en ondervinding vir die posvlak is nie nagekom nie en die persoon wat aangestel is, het nie aan die vereistes voldoen nie. Die munisipaliteit het egter die minimum voorskrifte totaal en al geïgnoreer en Retief, wat oor ‘n honneursgraad in verkeerbeheer beskik, is oor die hoof gesien,” sê De Villiers.
“Dit het my meer as R500 000 gekos om vir geregtigheid te baklei. Die munisipaliteit gebruik natuurlik belastingbetalers se geld,” sê Retief.
De Villiers wou nie ‘n raaiskoot waag oor wat dit die belastingbetaler van Polokwane gekos het nie, maar sê dat dit ‘n aansienlike bedrag moet wees. Retief wou nie die skikkingsbedrag bekend maak nie.
Die munisipaliteit moes voor 20 September die skikkingsbedrag betaal wat nie gebeur het nie, waarna ‘n lasbrief vir beslaglegging teen hulle bekom is. Die bedrag is daarna betaal.
Alhoewel die onbillike arbeidspraktykdispuut nou tot ‘n einde gekom het, het Retief ook destyds ‘n saak van konstruktiewe ontslag gemaak omdat hy beweer dat sy amptelike griewe nie aangehoor is nie. Die moontlikheid bestaan dat Retief nou ook ‘n eis hiervoor kan instel.
Die munisipaliteit kon teen druktyd nog nie inligting verskaf oor hoeveel die saak die belastingbetaler gekos het nie.

Storie en foto: NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com

Hooffoto: Hennie Retief het onlangs ‘n skikking met die munisipa­liteit na ‘n jare lange regstryd bereik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button