Muller-aanvallers tronk toe vir 18 jr
Die drie verdagtes wat vroeër vanjaar Nico (68) en Annetjie (66) Muller op hulle plaas Klippunt ongeveer 20 km buite Mookgophong oorval het, is op 19 Oktober in die Mokopane Streekhof tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.
MOKOPANE – Kululeko Freedom Shongwe, Albert Matwasa en Mooiman Jabulani Mahlanu is almal tot 21 jaar tronkstraf in die Streekhof opgelê, waarvan hulle altesaam 18 jaar daarvan moet uitdien.
In Bosveld se berig ‘Verdagtes vasgetrek na erge plaasaanval,’ op 15 Januarie, word vertel dat Muller om 07:00 die kalf gaan melk gee het toe drie booswigte hom in die huis in gevolg het en hom ‘n klap oor sy neus gegee het, waarna hulle hom vasgebind het. Hulle het sy vrou Annetjie in die gesig geslaan, in die rug geskop en haar ook vasgebind. Binne ‘n uur het die verdagtes die huis geplunder. Danksy die flink reaksie van die boere, HPG Spoorsnyers en die plaaslike polisie, is die verdagtes om 12:00 dieselfde dag vasgetrek. Die verdagtes het onder meer vier klagtes van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, onwettige besit van wapens en ammunisie in die gesig gestaar. Hulle is ook aangekla van poging tot moord aangesien hulle op die mense wat hulle in hegtenis wou neem, geskiet het.
Oud-kol Sakkie Lourens van die HPG sê hulle verwelkom die vonnis. Hy is dankbaar dat geregtigheid geskied het en meen die vonnis moet as ‘n waarskuwing dien, dat oortreders aan die pen sal ry.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



