MOKOPANE: Wanneer word my vullis verwyder?
Vullis word op die volgende dae deur twee trokke in die volgende uitbreidings verwyder:
MOKOPANE – Die vraag ‘Wanneer word my vullis verwyder?’ word gereeld op Facebook gevra en die onsekerheid lei daagliks tot ‘n vuil tameletjie, met die dat honde en boemelaars vullissakke oopskeur en rommel die strate vol lê.
DA Raadslede Yolandé Coetzee en Korny Dekker wek lig op dié netelige saak.
Dekker en Coetzee sê hulle weet die ongewenste krap van bedelaars in die vullissakke is ‘n groot kopseer nie net hier nie, maar ook elders in die land. Die bedelaars oorskry egter nie ‘n wet nie en dus kan daar nie teen die skuldiges opgetree word nie.
Hulle maan die gemeenskap om op die regte dae en reeds vroegoggend hulle vullissakke vir verwydering uit te sit, want die munisipaliteit spring al douvoordag aan die werk.
Beide Coetzee en Dekker ry daagliks deur hulle wyke en rapporteer probleemareas aan die gemeenskapsdienste, maar ongelukkig geskied die opruiming nie aldag dadelik nie met die gevolg die gebied word dan ‘n rommelhoop.
Hulle vertel ‘n ander nuutjie het die laaste tyd kop uit gesteek. Inwoners strooi nie slegs rommel nie, maar daar word onwettig vullis in en om die dorp gestort.
Die DA Raadslede doen ‘n beroep op die inwoners wat so ‘n persoon op heterdaad sou betrap, om dadelik ‘n foto te neem van die skuldige se voertuigregistrasie, asook van die storting en dit dan aan hulle te stuur vir verdere ondersoek.
“Ons wil daadwerklik teenoor skuldiges begin optree. Ons almal weet waar die Munisipale stortingsterrein is, dus is daar geen verskoning vir die wangedrag nie,” sê Dekker en Coetzee.
Indien lesers weet van ‘n area waar die gemeenskapsdienste nagelaat het om die vullis te verwyder, of indien enigiemand ‘n morsjors wil verkla vir onwettige storting, of slegs vir verdere inligting rakende vullisverwydering, kontak (015) 491 9706 of Dekker by 082 878 1502.
Coetzee kan by 079 2737 986 gekontak word.
Vullis word op die volgende dae deur twee trokke in die volgende uitbreidings verwyder:
Maandae: Uitbreiding 12 en Nylpark – die verwydering van grootmaat afvalhouers in die dorp, ‘kerbside’ verwydering in die dorp, asook in die buitewyke van die dorp en Mahwelereng.
Dinsdae: Akasia, Dudu Madisha-, Meintjies- en Schoemanstraat, Impalapark, Florapark, en die buitewyke van die dorp.
Woensdae: Chroompark en ‘kerbside’ verwydering in die dorp.
Donderdae: Eenheid D, Suide van Thabo Mbekirylaan van Rabe- tot Tom Naudéstraat, Kameeldoring, Geyser tot Tom Naudé.
Vrydae: Verwydering van grootmaat afvalhouers in die dorp en kerbside verwydering so ook Entambeni en Bakenberg.
Saterdae: Verwydering van grootmaat afvalhouers in die industriële area, dorp en Mahwelereng.
Sondae: ‘Kerbside’ verwydering in die dorp en verwydering van grootmaat afvalhouers.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



