Hansieskouspel
'n Standbeeld van die oud-Springbokrugbyspeler Naas Botha was deur Mauritz Hansen onthul.
MOKOPANE – Met meer as 2 000 rugbyspelers, asook ouers en talle toeskouers op die pawiljoen is die 25ste Mauritz Hansen Rugbyweek Dinsdag met sonsondergang op ‘n feestelike wyse geopen.
Die gewilde Hansieweek lok jaarliks landwyd die rugbyspanne van hoërskole wat hier op die velde van Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong kragte kom meet.
Lees Meer:
Rugbykoors seëvier
‘n Prag standbeeld van die Springbok rugbylegende Naas Botha is by die Elardus Erasmusstadion van die skool onthul deur die stigter van die Hansieweek Mauritz Hansen en Gerrie Calitz, ‘n kleinseun van Herman Brauer.

Die beeld is deur die Herman Brauer Trust aan die skool geskenk.
‘n Super Hansierugbyspan is ook aangekondig. Die span is saamgestel deur Hansen uit top spelers wat vir Hoërskool Hans Strijdom op die rugbyveld oor die jare heen uitgedraf het. ‘

n Spesiale gedenktrui is aan elke gekose speler oorhandig. Aandenkings is ook oorhandig aan diegene wat diep spore in die geskiedenis van die Hansieweek getrap het.

In die openingswedstryd op die hoofveld het Hoërskool Hentie Cilliers van Virginia met die Hansies se eerstespan afgereken. Die eindtelling was 20-13.

Met die sowat 80 spanne wat teen mekaar meeding gaan dit interessant wees om te sien wie mekaar Saterdag in die eindstryd gaan pak en of Hoërskool Oos Moot van Pretoria weer die beker gaan lig.
Die Hansies nooi almal uit om die rugbyskouspel te kom ondersteun.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za




