‘n Roerende passie vir engelkinders
Met 'n spesiale plek in haar hart vir mense, veral kinders, met Downsindroom maak Amy Plat haar hart en haar deure oop om vir dié kinders skool te gee.
POLOKWANE – Downsindroom gebeur wanneer daar ‘n ekstra chromosoom op die baba se ma of pa se geslagsel is en gevolglik word die baba met ‘n gestremdheid gebore.
Baie mense praat van hierdie kinders as Engelkinders. Hully lyk anders met hul vernoude oë wat skewerig boontoe buig en wye neusbrug. Hulle hande en vingers is kort en alhoewel hul tong nie groter is as ander babas nie, vertoon dit groter as gevolg van hul klein mond. Hulle ore is baie klein en laag op hulle koppe.
Downsindroom is vernoem na ‘n Engelse dokter, dr. John L.H. Langdon Down, wat die kenmerke van die sindroom die eerste keer in 1866 beskryf het.
Trisomie 21 is die algemeenste soort Downsindroom en kom by omtrent 90 tot 95% van alle gevalle voor. Dit is nie oorerflik nie.
Kinders met Downsindroom het spesiale onderwys nodig en funksioneer dikwels nie in ‘n hoofstroomskool nie. ‘n Behoefte vir ‘n skool spesifiek vir kinders met Downsindroom is raakgesien en Amy het van Centurion af na die stad verhuis om só ‘n skool oop te maak.
Sy het voordat sy verhuis het by ‘n skool wat uitsluitlik vir Downsindroomkinders is skool gegee en sê alhoewel sy aanvanklik nie van plan was om lank in die stad te bly nie is sy reeds gevestig en het groot planne vir die stad.
“Club21 is ‘n skool in Centurion wat deur Izelle Els, wie self ‘n kind met Downsindroom het, in 2012 begin. Ek het in 2014 by Club21 aangesluit voordat ek na die stad verhuis het. Die skool het so vinnig gegroei dat daar nou selfs ‘n sport akademie is,” vertel Amy.
Sy vertel sy wou nog altyd onderwys studeer, maar sy was bang dat dit haar passie vir kinders sou versmoor. Sy het modeontwerp studeer maar na sy dié studies voltooi het, het sy ‘n Au pair-kursus gedoen.
“Izelle en my ma ken mekaar en sy het haar vertel dat haar skool ‘n onderwyser vir die jonger kinders soek. Ek het aanvanklik gedink ek kan nie so iets aandurf nie, maar nadat ek ‘n Vrydagmiddag by die skool gekuier het, het ek sommer die volgende Maandag by Club21 aangesluit,” verduidelik sy. “Hulle het my hart gevang en ek het saam met die skool gegroei.
Hierdie kinders is anders en baie spesiaal. Hulle gee nie om wat ander van hulle dink nie en hulle is baie liefdevol.”
Amy het nou ‘n klas met drie kinders in Mokopane maar het onlangs ‘n area in die stad gekry wat sy ook vir klasse kan gebruik.
“Ons neem nie meer as sewe kinders per klas nie en elke klas het ‘n onderwyser en ‘n assistent wie die kinders leer. Club21 is soos ‘n skool, met dissipline, roetine en reëls maar met leerders wie spesiale sorg verg. Die skool neem kinders van vier tot nege jaar.”
Die skool sal geleidelik groei soos wat hulle die ideale onderwysers kry om die kinders te leer. Een van die belangrikste vereistes is dat hulle ‘n sterk verhouding met God moet hê. Daarby is ‘n onderwyskwalifikasie ‘n vereiste, dit hoef nie ‘n remidiërende onderwyskwalifikasie te wees nie.
“Die belangrikste vereiste is dat die onderwysers ‘n passie vir kinders en onderwys moet hê.
Hierdie kinders is ongelooflik eerlik met geen voorwendsels nie.
Hulle is slim, maar doen dinge teen hul eie pas en hul groot motoriese spiere is nie altyd goed ontwikkel nie.
Hulle het ‘n lae spiertonus en dus moet hul hele lyf geoefen word. Dinge kom nie vanself vir hierdie kinders nie,” verduidelik Amy.



