Chauke gaan skuldig pleit
POLOKWANE – Alex Talent Chauke, die man wat teregstaan op ‘n aanklag van moord op plaaslike inwoner, Ignat Oosthuizen, beplan glo om skuldig te pleit. Dis reeds meer as twee jaar dat Chauke se verhoor draaie in die hof maak. Oosthuizen is op 5 Mei 2015 in Serala View met ‘n mes doodgesteek nadat hy …
POLOKWANE – Alex Talent Chauke, die man wat teregstaan op ‘n aanklag van moord op plaaslike inwoner, Ignat Oosthuizen, beplan glo om skuldig te pleit. Dis reeds meer as twee jaar dat Chauke se verhoor draaie in die hof maak.
Oosthuizen is op 5 Mei 2015 in Serala View met ‘n mes doodgesteek nadat hy op ‘n inbreker in sy huis afgekom het.
Lees meer: “We asked them to protect us, now he is dead”
Chauke het Dinsdag weer in die Seshego Streekhof verskyn, waar sy regsverteenwoordiger voor die verrigtinge versoek het om die hof toe te spreek.
Lees meer: 2 year wait for Serala View murder trial
Die versoek is toegestaan en Pheladi Molepo het aan die hof verduidelik dat Chauke, haar kliënt, aan haar bekendgemaak het dat hy beoog om sy pleit van onskuldig na skuldig te verander.
Volgens Oosthuizen se weduwee, Simoné, was die nuus vir haar ‘n skok. Simoné het vroeër aan Review vertel dat sy steeds nagmerries kry van die dag wat haar man voor haar vermoor is in hul huis in Serala View. “Ek was baie lank kwaad en bitter oor wat gebeur het en het antwoorde gesoek, Ek wou nie glo dat die lewe waarin ek so gelukkig was verby is nie. Dit was van my gesteel. Dis nie maklik om in die hof te sit en die man te sien wat my lewe verander het nie. Die saak duur lank en keer op keer word die wonde weer oopgekrap en as die saak uitgestel word moet alles weer toegemaak word. Miskien sal daar nou ‘n einde kom en ‘n mens kan begin om aan te gaan met jou lewe met die wete dat die gereg sy gang sal gaan,” het sy aan Review vertel.

Die saak is uitgestel tot Maandag, 14 Augustus wanneer Chauke na verwagting, gaan skuldig pleit.
Regter Stiaan Gericke het tydens Chauke se laaste verskyning herhaaldelik aan Chauke se regverteenwoordiger gevra om seker te maak of Chauke inderdaad gaan skuldig pleit. Sy het geantwoord dat dit ‘n uitgemaakte saak is. Die saak is uitgestel sodat die ooggetuies gevrywaar kan word en dat Chauke se regsverteenwoordiger ‘n verklaring kan opstel om aan die hof voor te lê.
Chauke bly in aanhouding.




