Bosveld NewsNews

Geliefde sakeman laat groot leemte

Nantes Kelder het na 'n lang siekbed sy stryd teen kanker op 13 Augustus verloor het.

MOKOPANE – “My pa se dood laat ‘n groot leemte in Mokopane se gemeenskap.”

So gesels Ferdinand Kelder met Bosveld oor sy pa, Nantes, wat na ‘n lang siekbed sy stryd teen kanker op 13 Augustus verloor het. Nantes (68) was lank aan stuur van sy eie lewensversekeringsbesigheid op die dorp. Die leisels het hy hier stewig vasgehou vir 17 jaar tot sy afsterwe.

“My pa is in Tzaneen gebore, waar hy grootgeword en skool gegaan het. Hy het my ma, Annamarie as ‘n student leer ken en hulle is 1979 getroud waarna hulle, hulle self op Mokopane kom vestig het. My pa begin sy loopbaan in die meubelhandel en later begin hy lewensversekering verkoop. Hy open sy finansiële besigheid,

Nantes Kelder Finansiële Dienste op 1 Augustus en verwerf sedertdien baie toekennings en is alom bekend.”

Ferdinand sê sy pa was voorwaar ‘n merkwaardige persoon en hy sal altyd onthou word vir al sy insette in die gemeenskap. “My pa het ook vir ‘n jaar of wat as burgermeester van Mokopane gestaan. Hy het aan die Tafelronde Kameeldoring ’92 behoort en later aan die Potgietersrus Rotariërs.”

Ferdinand sê na sy pa se afsterwe kom hy en sy gesin nou eers agter wat sy pa vir liefdadigheid gedoen het, en dat hy nooit daaroor geroem het nie. “Nou verstaan ons sy leuse nog better: ‘Maak nie saak hoe suksesvol jy is nie bly altyd nederig.’ My pa was dit beslis.”

Sy passie vir sport het hy uitgeleef. “Die ouer garde sal dalk nog kan onthou dat hy vir Potgietersrus Rugbyklub uitgedraf het en later ondersteun het langs die veld of voor die televisie.

“Hy was ‘n hardwerkende man, sodat my ma al haar aandag en liefde aan ons kinders kon gee.”

Ferdinand onthou sy pa ook as ‘n avonturier. Hy en Annamarie het die wêreld verken en platgereis. “As ons nou deur die foto-albums blaai sien ons twee gelukkige mense wat altyd gelag het en lief was vir mekaar. My pa se afsterwe is vir ons soos ‘n reuseboom wat omgeval het. Nou is daar net stilte en ooptes wat niks sal kan vul nie. Ek dink die skok sal ons eers tref wanneer alles terugkeer na normaal.”

Nantes los sy geliefde eggenoot en twee kinders Ferdinant en Ibelri Kelder, asook sy skoondogter Elzette Kelder agter.

Die begrafnisdiens vind Vrydag, 18 Augustus, om 11:00 van uit die N.G. Oos-gemeente plaas.

redaksie.bosveld@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button