Local NewsNews

Annemie maak snaakse-mooi dinge

Daar is min dinge wat Annemie Ohlenschläger nie in juwele kan omskep nie.

POLOKWANE – Sy het reeds meer as 20 jaar se ondervinding en spog daarmee dat sy nie bang is om goed soos hare, tande of selfs naels te gebruik om iets blink te maak nie. Annemie is iemand wat toelaat dat haar verbeelding met haar weghol en om iets nuuts aan te pak laat haar vingerpunte sommer jeuk. Met kliënte van reg oor die wêreld hou sy steeds haar voete plat op die grond. Mens kan nie help om uit jou maag te lag vir al haar snaakse en somtyds hartseer stories nie. Sy vertel dat sy vir ‘n man ‘n ring moes maak van sy vrou se hare, na haar afsterwe.

“Ek hou nie daarvan as mens ander mense indoen nie, my pryse is spot goedkoop en vir my gaan dit oor die mense, ek wil graag vir hulle iets maak wat hulle altyd sal onthou. Alles moet wees soos die kliënt dit wil hê, die diens, die gesels en dan ook die eindproduk,” vertel sy.

Sy vertel dat jagters gereed patroondoppies bring wat sy dan vir hulle in ‘n towerstuk omskep. “Ek maak gewoonlik ‘n hangertjie vir die jagter met ‘n kop van die dier wat hy geskiet het saam met die patroondoppie, om die herinnering vas te vang,” vertel sy. Nog vreemde, maar gewilde stukke wat sy gebruik is die been in die keel, die “floating bone”.

Annemie vertel dat van haar ander stukke hare van diere en selfs horings insluit.

“Om juwele te maak is ‘n kuns, maar dis ook iets wat mense se verbeelding kan aangryp. Ek is een van die min mense wat met die hand smee en ek hoop dat daar jongmense is wat graag eendag dié tipe werk sal wil doen, om die voortbestaan van dit te verseker,” vertel Annemie.

Haar raad aan ander is om te doen wat jou hart begeer, maar altyd seker te maak dat jy gelukkig is en groei in wat jy doen.

Behalwe vir die unieke juwele wat sy maak, maak sy ook juwele wat elke dag gedra kan word en sy vertel dat sy dit geniet om dié twee wêrelde te meng. Om mense se uitdrukkings te sien as hulle die juwele sien, hulle monde wat oophang want hulle het nie besef dat iets mooi uit iets soos naels of tande gemaak kan word nie, is iets wat al die harde werk beslis die moeite werd maak,” vertel sy.

Jy kan Annemie op Lazlocraft Jewellery se Facebookblad kontak.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button