(Goeie) nuus na diefstal
Plaaslike Seeff-konsessiehouer Karien Jordaan was die slagoffer van motordiefstal toe diewe by haar motor se kattebak ingebreek het op Maandag, 24 Augustus.
POLOKWANE – Haar storie het egter ‘n positiewe nadraai gehad toe die polisie haar onlangs gebel het met die goeie nuus dat haar items teruggevind is.
Jordaan was van meet af baie beïndruk met die diens van die polisie, wat sy sê haar deurentyd op hoogte gehou het van verwikkelinge in die saak. Min het sy egter self gedink sy sou enige van haar besittings terugkry.
Lees meer: Diefstalbloutjie kry (goeie) kinkel
“Sersant Wilken Marutha, wat my saak behartig het, het my die dag na die diefstal besoek. Drie dae nadat die diefstal plaasgevind het is daar transaksies met my petrolkaart gemaak en deur dié transaksies het polisie die motorregistrasie en gesigfoto’s van die boewe gehad.”
Sy vertel dat Marutha haar ten minste een keer ‘n week gekontak het om haar op hoogte te hou.
“Verlede Dinsdagaand om 22:00 het Maruthu my gekontak met die nuus dat hulle my handsak gevind het met al my besittings steeds daarin onder andere my sonbril, gewone bril, ID en kaarte. Ek kon nie glo wat ek hoor nie. Hy het my ook vertel dat hulle reeds twee arrestasies gemaak het en aan nog twee werk.”
Verlede Woensdag het Jordaan besoek afgelê by die polisiestasie waar sy haar opregte dank teenoor die vriendelike, hulpvaardige personeel, uitgespreek het.
AO Lesiba Ramoshaba vertel dat hulle as Polokwane Polisiestasie nederig en geëerd voel deur die kompliment.
“Ons is die mense se dienaars en daarom moet ons saamwerk. Daar is goeie polisiebeamptes daar buite en hulle benodig die dank en advies van die publiek. Dankie aan Karien vir die groot kompliment en dank asook die hulp wat sy ons gedurende die ondersoek verleen het. Hulp soos dié sal ons met ander sake ook help om die misdadigers vinniger vas te trek. Ons moedig inwoners aan om by die Gemeenskapspolisiëringsforums en sektorpolisie betrokke te raak om misdaad te help bekamp. Ons as polisie se primêre doel is om die inwoners van die stad te beveilig,” sê Ramoshaba.
Jordaan vertel dat sy glo daar is nog hoop vir die land. “Wat ek geleer het is dat alles met jou gesindheid begin. Ek het besluit om in die polisie te glo, veral in sersant Marutha wat my saak hanteer het. Ek het besluit om te help waar ek kan. Ja, hulle het nie USB-stokkies om die getuienis op te sit om in die hof te gebruik nie, ja hulle het beperkte vervoer en baie ander beperkings, maar ek het besluit om my houding te verander en, waar moontlik, van hulp te wees. Ek het die USB-stokkie wat hy nodig gehad het vir die bewyse in die hof, gaan koop. Ek het met die vulstasie se eienaars en bestuurders gepraat en kyk wat het gebeur.”




