Elken ‘n seën ondanks geboortedefek
Elken is met fibulêre hemimelie in sy regterbeen gebore
POLOKWANE – Elken: God het geskep. 26 Maart was vir Sumé Potgieter en Charl Mynhardt ‘n merkwaardige dag, hulle het ouers geword.
“Sy naam beteken God het geskep. Ons wou hom eers iets anders noem, maar Elken is ‘n baie unieke naam.” vertel Sumé. Die paartjie moes kort daarna ‘n stryd in die gesig staar.
Elken is met fibulêre hemimelie in sy regterbeen gebore.

Volgens Charl is daar met die laaste sonar aan hulle gekommunikeer dat dit lyk asof hulle ‘n kort seuntjie gaan hê. Hulle het hulself egter nie daaraan gesteur nie. “Gedurende die swangerskap was alles normaal en die dokter kon niks foutvind nie. ‘n Ortopeet het kort na sy geboorte kom kyk wat fout is en vir ons vertel dat hy dieselfde kondisie as Oscar Pistorius, ‘n voormalige Paralimpiese atleet, het. Sy fibula been het glad nie gegroei nie en sy enkel het nie ontwikkel nie. Dus is sy regterbeen korter as sy linkerbeen. Die toestand kom voor by een uit elke 140 000 babas en is nie geneties nie,” vertel sy.
Op ses weke is daar X-strale geneem waarin die plaaslike dokter ‘n operasie aanbeveel het. “Hier is vir ons vertel dat daar net 10% sukseskans op so ‘n operasie is en het voorgestel dat ons die been amputeer,” vertel Charl. Al was dit vir die ouers ‘n moeilike besluit, het hulle volle vetroue in die dokter gehad. “Die amputasie is verlede Dinsdag gedoen en ons mannetjie was voorwaar ‘n yster. Hy mag niks geëet het voor die operasie nie, en waar hy tussen 12:00 en 13:00 geopereer sou word. Die operasie is met ‘n paar uur uitgestel. Nie een keer was hy moeilik omdat hy honger was nie,” vertel Sumé.

Sy been is net onder sy knie afgesit.
Charl het sover kwotasies vir ‘n prostese gekry en Ian Lategang van Limb Orthotic & Prosthetic Services het aangebied om hulle te help.
“Danksy Child Medi Organisation het ons genoeg ingesamel vir sy eerste prostese. Hy moet elke drie of vier maande ‘n nuwe kous kry en dit kos in die omgewing van R5 000. Die kous word van silikoon gemaak. Daarna moet hy ook elke jaar ‘n nuwe prostese kry,” vertel Charl.
Die prostese moet na ‘n jaar vervang word, en die vervanging moet deur sterker materiaal gemaak word. Dit kos tussen R70 000 en R200 000.
Om ‘n bydrae te maak, besoek gerus die GoGetFunding bladsy op: https://gogetfunding.com/elken-medical/ of stuur die bydrag na Child Medi Organisation met die volgende besonderhede:
Child Medi Organization
FNB, Tjekrekening
Rekeningnommer: 626 325 810 56
Takkode: 250655
Swiftkode: firnzajj
Verwysing: Elken
nadia@childmedi.org
Seksie 18(A) Belastingvrystellingsertifikate is beskikbaar vir besigheid en individue.




