Local NewsNews

Vrou vertel van kankerstryd

Review het met ‘n leser, wat borskanker oorwin het, ‘n mastektomie ondergaan het, en ook rekonstruktiewe chirurgie ontvang het, gesels.

POLOKWANE –  Oktober is die maand waarop daar ekstra gefokus word op borskanker en die belangrikheid van gereelde ondersoeke.

Review het met ‘n leser, wat borskanker oorwin het, ‘n mastektomie ondergaan het, en ook rekonstruktiewe chirurgie ontvang het, gesels.

Sy verkies om anoniem te gesels.

“Ek was een van die vroue wat gereeld gegaan het vir die nodige mammogram en papsmeertoetse. Dit is nie altyd lekker nie, maar ons moet daardeur. In September 2008 het ek weer vir my gereelde toetse gegaan en alles was in orde, alhoewel ek altyd fibrosietes in die borste gehad het, was al die toetse skoon.”

Sy vertel dat sy in Februarie die volgende jaar begin moeg voel het, maar gedink het dat sy net oorwerk is en verlof nodig het. Sy het vir haar vitamienaanvullings aangeskaf en dit het begin beter gaan.

“In die begin van April 2009 het ek ‘n selfondersoek gedoen waartydens ek ‘n harde knop in my regterbors ontdek het. Die knop was nie soos die ander nie, maar kliphard. Dit het nie beweeg nie, maar was ook glad nie seer nie. Ek kon nie dadelik ‘n afspraak by die radioloë kry nie, die eerste beskikbare afspraak vir 17 April. Toe ek instap by die dokter was sy woorde ‘Hoekom nou? Alles was dan so mooi verlede jaar?’. Hy het die rooi botteltjie met die word ‘dringend’ nader gebring vir die bioposie naald en hier het ek besef iets is fout.”

Sy vertel dat alhoewel dit ‘n skok is, is ‘n kankerdiagnose nie ‘n doodsvonnis nie.

https://www.citizen.co.za/review-online/233688/breast-cervical-cancer-know-signs/

“Ons het as familie saam gehuil en saam besluit dat ons sal veg en nie sal lê nie. Alhoewel die dokter nie seker was oor wat dit veroorsaak het nie, vermoed ons dit was stres en hormone. Kanker is nie in my familie nie. Ek is gelukkig om ‘n netwerk van dokters te hê wat saam werk wat my deur die behandeling gehelp het, dit sluit die radioloë, ginekeloog, onkoloog en chirurg in.”

Sy vertel verder dat sy die dag waarop haar ginekeloog haar gebel het, nooit sal vergeet nie.

“Dit was op 21 April. Haar woorde was ‘Mevrou, ek het klaar vir jou ‘n afspraak gemaak by die chirug’’. Die chirurg gee my toe drie keuses – Die bors moet beslis af, maar daarna het ek die keuse van óf ‘n prostese óf niks óf rekonstruksie. Hy het aan my verduidelik dat ‘n “valsie” nie gaan werk nie aangesien ek dit gaan vergeet of dit gaan op die ontmoontlikste plek uitval. Om niks terug te sit sou ook nie werk nie dus was rekonstruksie die enigste opsie. Hy het aan my verduidelik dat hy die vet om my maag gaan gebruik om die rekonstruksie te doen.”

Haar mastektomie en rekonstruksie het op 6 Mei tydens ‘n ses-uur lange operasie plaasgevind. “Toe ek wakker word het ek baie seer gehad en daar was dreineringspype onder my arm en uit my maag. Op Moedersdag kon ek huis toe gaan wat wonderlik was omdat my dogter my steunpilaar was. Elke dag moes die dreineringsakkie leeg gemaak geword het en die wonde skoongemaak geword het.”

Nadat sy vir ses weke nie by die werk was nie, het sy weer begin werk met ‘n regterarm wat nie meer 100% funksioneel was nie. Aan die einde van Junie het sy weer na die onkoloog terug gegaan vir ‘n opvolgondersoek.

“Die onbekende het vir my voorgelê. Dit was tyd vir my chemoterapiebehandeling.”

In Julie is s yen haar gesin vir hul jaarlikse wegbreek see toe en hier ervaar sy die eerste van baie seermaak-dinge as gevolg van die chemoterapie.

“My kop het gejeuk en was seer. As ek so aan my hare gevat het, het ek bosse en bosse uitgetrek. Gelukkig was dit aan die einde van die vakansie, want hoe loop ‘n vrou sonder hare by die see? Dit het gevoel of almal dit raaksien en trane het geloop. Terug by die huis het ek na die haarkapper toe gegaan en alles afgeskeer. ‘n Vriendin wat altwee haar borste verloor het, het toe vir my ‘n pruik gegee wat ek dadelik opgesit het want ‘n vrou kan nie sonder hare loop nie. Na die tweede chemobehandeling het my arm en hande so seer geword end it het gelyk asof ek sonbrand gehad het, die vel het ook styf getrek. So gaan die derde en die vierde chemoterapiesessie ook verby, elke keer iets anders en het ek gevoel asof ek as vrou platgeslaan was.”

Sy vertel dat sy om haar gekyk het en besef het dat daar ander mense is wat slegter af is as sy. Die ondersteuning van haar man en kinders het vir haar baie beteken, en sy sê hullle het altyd vir haar moed ingepraat. In Oktober 2009, net na haar vierde chemoterapiebehandeling, het sy gehoor dat sy nie nog sessies hoef deur te gaan nie.

“Die onkoloog wou my eers in Januarie 2010 weer sien. Desember 2009 was dit baie baie warm en op 19 Desember het ek besluit om van die pruik ontslae te raak. In Januarie 2010 het die toetse weer begin en al die uitslae was skoon. Die dokter sê toe ek moet ses maande later weer kom en weer was al die toeste skoon.  Ek is nou deur die ses-maande roetine en ek weet dit gaan goed met my.”

Die kans dat sy borskanker in haar ander bors sal kry is volgens haar baie skraal. Sy drink tans nie enige ekstra pille nie, behawel aanvullings vir menopouse en sy het ‘n droë vel.

“Ek sal nooit weer my hare kleur nie. Daar is net Een wat my deur alles gehelp het en dit is God. ‘n Mens moet net glo en vertrou.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button