Swart Maandag-organiseerder nie vervolg nie
Die saak van die organisering van ‘n onwettige byeenkoms teen James van den Bergh, die organiseerder van die onlangse samekoms van boere en ander gemeenskapslede op die N1-suid buite Polokwane as deel van ‘n nasionale protes teen plaasmoorde, is Vrydag laat vaar. Van den Bergh het kort na die samekoms by die Westenburg polisiestasie aangemeld …
Die saak van die organisering van ‘n onwettige byeenkoms teen James van den Bergh, die organiseerder van die onlangse samekoms van boere en ander gemeenskapslede op die N1-suid buite Polokwane as deel van ‘n nasionale protes teen plaasmoorde, is Vrydag laat vaar.
Van den Bergh het kort na die samekoms by die Westenburg polisiestasie aangemeld nadat hy van ‘n aanklag teen hom verwittig is.
Hy is gewaarsku om Vrydag in die Polokwane landdroshof op ‘n aanklag van die organisering van ‘n onwettige byeenkoms te verskyn, maar sê die aanklaer het hom laat gaan nog voordat hy in die hof verskyn het omdat daar nie genoeg bewyse teen hom was nie.
Dit volg nadat groot hoeveelhede boere en gemeenskapslede in en om die stad aan die Swart Maandag-protesaksie deelgeneem het. Van den Bergh het toe reeds in ‘n onderhoud met Polokwane Observer gesê dat alles binne die grense van die wet georganiseer is en dat ‘n mens nie toestemming vir ‘n byeenkoms in eerbied vir boere wat in plaasaanvalle vermoor is, nodig het nie.
“Ons het geen wette oortree nie. Dit was nie ‘n optog nie en ons het geen paaie versper of verkeersreëls verontagsaam nie,” het hy aan Polokwane Observer gesê.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com