BusinessNews

Oor koerante en blaadjies… Ek betaal graag vir my koerant, maar só hou ek my pappegaaihok skoon

Die omslagprys van Polokwane Observer word met ingang van 1 Februarie 2018 van R4,00 na R6,00 verhoog. Hoewel die verhoging persentasiegewys groot is, is hierdie die eerste aanpassing die afgelope vier jaar. Die werklikheid is dat die prys van R4,00 nie langer geregverdig of gehandhaaf kan word nie en, om eerlik te wees, R6,00 is …

Die omslagprys van Polokwane Observer word met ingang van 1 Februarie 2018 van R4,00 na R6,00 verhoog.
Hoewel die verhoging persentasiegewys groot is, is hierdie die eerste aanpassing die afgelope vier jaar.
Die werklikheid is dat die prys van R4,00 nie langer geregverdig of gehandhaaf kan word nie en, om eerlik te wees, R6,00 is steeds in terme van koopkrag of -waarde irrelevant.
Koerante: Relevant en akkuraat
Gemeenskapskoerante, soos Polokwane Obser­ver, vertolk ‘n reuse rol in die visuele en openbare oordrag van noodsaaklike en akkurate inligting en sal vanweë sy tasbare beskikbaarheid op straathoeke en honderde afsetpunte altyd ‘n relevante produk bly, ongeag die geraas van sosiale media en die oorweldigende wonderwêreld van digitale tegnologie.
Koerante bly gesaghebbend en finaliteit oor groot gebeure word altyd in hoofopskrifte van koerante bevestig.
Hoor gerus by die oneerlike sakeman waar hy verkies die negatiewe pu­blisiteit moet verskyn – op die internet, net nie in die plaaslike koerant nie. Hoor gerus by die trotse ma waar haar kind se prestasies aangekondig moet word: In die koerant asseblief, die internet is onpersoonlik. Hierdie denkwyse van mense sal nooit verander nie. Koe­rante is openbare dokumente, as’t ware ‘n gedrukte agenda bestaande uit nuus en advertering wat vir openbare gesprek blootgelê word.
Waarom ‘n omslagprys?
Die feit dat Polo­kwane Observer verkoop word en nie gratis beskikbaar is nie, bevestig ons as uitgewers se vertroue in ons produk. Verkope is die enigste meetbare en akkurate metode om aan adverteerders ‘n betroubare lesersyfer of indikasie van ‘n gedefinieerde mark te gee. Ons verkoopstatus maak ons outomaties onderworpe aan streng bedryfsregulering soos lidmaatskap van die Ouditburo vir Sirkulasie en die Vereniging van Adverten­siestandaarde van Suid-Afrika.
Ons inhoud word met valkoë dopgehou deur die Persombudsman en die Agentkap vir Mediaontwikkeling en Diversifikasie klop gereeld by ons aan om insette oor ‘n gelyke mediaveld te verkry. Polokwane Observer se rol en status as mediahuis word landwyd hoog geag. Koerante se rol in die vestiging en handhawing van die demokrasie is ongeëwenaard.
En vanwaar dié foefie?
Maar wat gebeur nou? Niks minder nie as ‘n foefie wat hom afspeel waar gesoute sakelui in die ekonomies neerdrukkende tyd hulself verder verarm en geld met advertering mors in gratis gedrukte produkte wat soos padda­stoele verrys.
Gratis boekies, brosjures en gidse waar advertensies soos sardyne in ‘n blik gedruk word (win gerus kennis in oor die mislukte model van advertensiebondeling), dien bloot die saak en sak van diegene wat hiervan ‘n besigheid maak…en goed geld maak vir ‘n jaar of drie, sonder om wesenlik werk te skep, sonder om by te dra tot die breë mediafunksies van inligting, opvoeding en vermaak van die gemeenskap. Sonder om enigsins ‘n waghondfunksie vir sy lesers (indien daar lesers is) te vervul.
Die beste gebruik van hierdie produkte wat oor sogenaamde magiese bemarkings­waarde beskik, is vir my persoonlik die gebruik daarvan om die onderkant van my pappegaaihok skoon te hou.
Gratis papier is ook nuttig vir baie ander dinge – persoonlike higiëne, verpakking, was van vensters ens.
Dié verskynsel om sakelui met gratis blaadjies teen belaglike advertensietariewe in te doen, is in die laat negentigerjare na ‘n klompie jare die nek omgedraai deur dieselfde sakelui wat die advertensierekening van die skynuitgewers gevoed het. Waarom? Want dit werk nie, dit lewer nie resultate op nie. Die publiek vat nie iets wat hy nie nodig het nie, tensy vir die handige gebruike hierbo vermeld. Radiostasies bestaande uit slegs advertensies bestaan nie, televisiekanale bestaande uit slegs advertensies bestaan nie, ‘n sosiale platform bestaande uit slegs advertensies bestaan nie, ‘n internetwêreld met blote toegang tot advertensies bestaan nie.
Maar… Polokwane word verswelg deur advertensieblaadjies! Die advertensiemark ontplof midde die drukkendste ekonomiese tyd wat die land in jare ervaar het. Eiendomsagente adverteer maand na maand volblaaie van selfs dieselfde eiendom oor en oor. Die boorman be­vestig oor en oor dat hy akkuraat water boor, die motorhandelaar maak oor en oor seker die publiek weet hy verkoop dié en daardie model, die pompman bevestig oor en oor hy verkoop dieselfde pompe… en so waai die note by die venster uit.
As uitgewerswese so maklik was dat gedrukte produkte van voor tot agter slegs uit inkomstegenererende advertensies bestaan het, wie in die bedryf sou oor dekades ooit so onnosel wees om enigsins ruimte af te staan vir nuus – nuus wat die gesigte van kriminele en korruptes ontbloot, nuus wat erkenning gee aan presterende leerders, ‘n bulletjie wat die durf en vasberadenheid van ‘n Springbokrugbyspeler vertoon, ‘n menslike berig oor die heengaan van ‘n geliefde inwoner, ‘n swendelaar wat die gemeenskap indoen, matrikulante wat in fotobeelde pronk op hul matriekafskeid, graadeentjies wat verbouereerd hul eerste skooldag tegemoetgaan.
Adverteerders, besin asb!
Adverteerders, besin weer en herbevestig jul vriendskap en bemarkingsvennootskap met Polokwane Observer.
Ons is jul oë en ore en sal nie huiwer om deur ondersoekende joernalistiek onheilighede bloot te lê nie. Ons veg met die pen en kamera vir geregtigheid, regverdigheid, openlikheid, vryheid, vrede, harmonie en die algemene welstand van al ons lesers wat getrou ons produk koop. Let wel: koop, want die publiek (jul kliënte) wil dit hê. Om te lees, in te neem, ingeligte menings te vorm…beslis nie om die onderkant van hul pappegaaihokke skoon te hou nie.

Storie: WILLIE ESTERHUYSEN
>>[email protected]

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button