‘Beeldskone boeremeisie’ wen gesogte toekenning
Die elfjarige Niah Malan, 'n boeremeisie van Sterkrivier, is onlangs bekroon met 'n AfriForum Tinteltongtoekenning vir haar Boeremeisie Beeldskoon produkte.
MOKOPANE – Niah, die wenner in die afdeling Innoverende produk, het by ‘n spoggeleentheid in die Menlyn Boutique Hotel haar toekenning ontvang.
https://www.citizen.co.za/review-online/249888/jong-boerenooi-wys-haar-saketalent/
Niah se ma, Tanya Malan, vertel aan Bosveld sy was verbaas toe sy in Januarie ‘n oproep van AfriForum ontvang en hoor Niah staan ‘n kans om ‘n Tinteltongtoekenning te wen. Dit was ‘n groot verrassing toe ek vroeg vandeesmaand ‘n oproep kry dat Niah die wenner is in die afdeling Innoverende produk. “Niah was oorstelp en kon nie glo dat sy gewen het nie. Sy moet nog tot verhaal kom oor al die aandag en publisiteit wat sy ontvang het. Sy het soos ‘n prinses gevoel tussen al die bekendes tydens die oorhandiging van haar toekenning. Niah was die jongste en het teen gedugte sakemense meegeding. My beker loop oor van trots.”
Tanya sê: “Innoverende Afrikaanse ondernemings word elke jaar op Internasionale Moedertaaldag 21 Februarie vereer met ‘n Tinteltongtoekenning deur die burgerregte-organisasie Afriforum in samewerking met AfriVriendelik. Die toekennings word gegee aan ondernemings of mense wat dienste in Afrikaans lewer of Afrikaans kreatief deur hulle besigheid bevorder.”
Niah se skoonheidsreeks Boeremeisie Beeldskoon het verlede jaar ook ‘n vyfde plek in Afriforum se Entrepreneur van die Jaar kompetisie ontvang. Dit is duidelik dié elfjarige gaan nog hoë hoogtes bereik in die sakewêreld.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za




