Kruinies se o.14-rugbyspan is Limpopo-wenners, eerstespan naaswenners
Vreugdevure brand hoog nadat Curro Heuwelkruin se o.14A-span Saterdag as kampioene in die Limpopo Blou Bulle Hoërskole Rugbyvereniging se finale ronde aangewys is. Hoërskole het in vier afdelings in die Virseker Bekerreeks kragte gemeet om die koring van die kaf te skei. Kruinies, in afdeling 3, se o.14A en eerstespan is die enigste plaaslike skoolspanne …

Vreugdevure brand hoog nadat Curro Heuwelkruin se o.14A-span Saterdag as kampioene in die Limpopo Blou Bulle Hoërskole Rugbyvereniging se finale ronde aangewys is.
Hoërskole het in vier afdelings in die Virseker Bekerreeks kragte gemeet om die koring van die kaf te skei.
Kruinies, in afdeling 3, se o.14A en eerstespan is die enigste plaaslike skoolspanne wat tot die finale ronde deurgedring het.
Die o.14-span het ‘n wegholsege van 65-12 teen Hoërskool Frans du Toit van Phalaborwa behaal en was rustyd reeds met 38-0 voor.
“Die span presteer omdat hulle vir mekaar in ‘n gelukkige omgewing speel. Hulle is gretige spelers wat luister na hul afrigter, Juan Vos, se raad,” sê Kruinies se sporthoof, André Hay.
Die eerstespan was nie so gelukkig nie en moes die aftog met 15-36 teen Hoërskool Louis Trichardt blaas om as naaswenners gekroon te word.
Die eerstespan speel Saterdag op hul tuisveld teen Hoërskool Hoogenhout van Bethal terwyl die o.14-span weg teen Leeuwenhof Akademie in Johannesburg speel.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com








