Antwoorde op talle klagtes saam met psigiater na sy graf
Barend Vorster is op 25 November 2010 in hegtenis geneem nadat hy die vorige jaar klagtes in die gesig moes staar dat hy pasiënte met medikasie oordoseer het. Klagtes is by die Mediese Raad ingedien.
POLOKWANE – Presies vier jaar na die selfdood van een van die vermeende slagoffers en bykans agt jaar nadat Polokwane psigiater Barend Vorster gearresteer is op verskeie klagtes wat insluit onsedelike aanranding, verkragting en die besit van kinderpornografie, is Vorster dood, vermoedelik aan ‘n hartaanval.
Vorster is op 25 November 2010 in hegtenis geneem nadat hy die vorige jaar klagtes in die gesig moes staar dat hy pasiënte met medikasie oordoseer het. Klagtes is by die Mediese Raad ingedien.
Lees meer: Plaaslike psigiater se prokureur beweer getuienis teen hom is ontluister
‘n Paar dae later is hy op borgtog vrygelaat, maar is weer in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
Die saak is in Maart 2013 van die rol verwyder maar Vorster is weer binne ‘n paar dae daarna aangekla.
Die hofsaak is eers aangehoor in Polokwane, en na die afbrand van die stad se landdroshof, ook in Seshego, Mankweng en daarna in Mokopane.
Lees ook: Psigiater se verhoor weer uitgestel
Die saak sloer al agt jaar, en al hoe meer klagtes is mettertyd bygevoeg.
Vorster, wat op borgtog uit was, het Maandag in Mokopane verskyn op klagtes van verkragting van minderjariges, seksuele aanranding en besit en die vervaardiging van kinderpornografie en vir die ongelisensieerde besit van ‘n vuurwapen. Talle van die kinders was sy pasiënte gewees.
Vorster is Maandag kruisondervra en die saak is uitgestel na die volgende dag vir verdere kruisondervraging.
Die staat is egter Dinsdag meegedeel dat die beskuldige oorlede is en die saak is na 25 September uitgestel sodat die doodsertifikaat voor die hof gebring kon word.
Die staatsaanklaers wat die saak hanteer het is adv. Cornelia Harmzen en Chantalle Stevens. Vir die ma van die seun wat sy eie lewe geneem het nadat hy na bewering deur Vorster verkrag is, het die nuus van Vorster se dood ou wonde oopgekrap. “Ek het so gebid, talle kere, dat ek die man kon vergewe, maar ek kon nog nie,” bieg sy teenoor Review.
Volgens haar is haar seun, wat nou 21 sou wees, op 12-jarige ouderdom opgeneem en behandel vir depressie. Hy was volgens haar onder baie sterk verdowing.
“Ons predikant het hom in die kliniek besoek, maar hy kon later niks daarvan onthou nie,” vertel sy. Op die ouderdom van 17 het hy sy eie lewe geneem.
“Ek was so desperaat om my kind te help; ek wou gehad het hy moet oukei wees, maar dit wat ek gedoen het om hom te help het uiteindelik alles erger gemaak. Ek wou hê dat geregtigheid moes geskied, ook ter wille van die ander kinders,” sê sy.
“My kind se broer, wie op hom afgekom het na hy sy eie lewe geneem het, kan nou nog nie daaroor kom nie en weier om ‘n sielkundige te spreek.”
Volgens Vorster se destydse prokureur, Wessie Wessels van JW Wessels en Vennote in Pretoria in 2014, was daar altesaam 15 klagte aanhangig gemaak teen sy kliënt. Dit het verskeie klagtes van onsedelike aanranding, die besit van kinderpornografie en twee klagtes van verkragting ingesluit.
‘n Familievriend het op Vorster se lyk afgekom toe hy hom Dinsdag wou gaan haal en hof toe vergesel.
Vorster se vrou en dogter word Saterdag vanuit Australië, waar hulle woon, verwag en begrafnisreëlings sal eers daarna bekend gemaak word.




