Dink weer voor jy ‘n viervoetige as kersgeskenk koop
Sommige mense sien ‘n nat neusie, twee blink ogies en 'n stert wat swaai as die ideale geskenk vir hulle geliefdes, maar is dit regtig 'n goeie idee om hierdie hondjie of katjie as geskenk te gee?
POLOKWANE – Kersgeskenke kan groot pret vir skenker en ontvanger tegelyk wees, maar dit kan ook in ‘n nagmerrie ontaard. Dink maar aan daardie aaklige bedkouse wat ouma vir jou gegee het of die goedkoop parfuum van ‘n vorige verhouding.
Sommige mense sien ‘n nat neusie, twee blink ogies en ‘n stert wat swaai as die ideale geskenk vir hulle geliefdes, maar is dit regtig ‘n goeie idee om hierdie hondjie of katjie as geskenk te gee? Review het met Selma Landman, bestuurder by die Polokwane DBV, hieroor gesels.
“Ongeveer twee maande na Kersfees bring mense hulle ongewenste troeteldiere wat geskenke vir hulle kinders was na ons toe. Ons moet dan vir hulle nuwe huise soek.”
Om ‘n troeteldier as geskenk te gee kan baie spanning en ongemak veroorsaak. Dit is ‘n verantwoordelikheid wat maklik 10 jaar of langer kan hou, waarvoor nie almal kans sien nie.
Wanneer kinders ‘n troeteldier as geskenk kry word dit dikwels die ouers se verantwoordelikheid. Die ouers het boonop dalk nie geld of tyd om nog ‘n troeteldier te versorg nie.
“Troeteldiere moet nie ‘n verrassing wees nie. Dit vat ‘n rukkie om ‘n area gereed te kry vir ‘n troeteldier. Die dier moet by die eienaar se leefstyl inpas.”
Troeteldiere het ‘n impak op jou finansiële sake. Behalwe vir die kos moet ‘n mens die veearts se koste van jaarlikse inentings en ontwurmings of wanneer die troeteldier siek is, kan bekostig. Sommige honde moet truie kry vir die winter en ander moet ‘n hondesalon besoek vir versorging.
Vakansies kan ook ‘n probleem raak aangesien ‘n troeteldier jou kan beperk tot waarheen jy kan gaan en vir hoe lank. Selfs hier moet jy dan ekstra betaal vir ‘n oppasser.





