Local NewsNews

‘Sonneblom’ Gloudine word só onthou

Gloudine Smit, SAVF Limpopo se gewese provinsiale leier, is Saterdag na 'n kort siekbed oorlede.

POLOKWANE – “Glou, jy was ons sterkte en ons bron van lig.”

Só onthou jarelange vriendin en kollega Marietjie Smit vir Gloudine Smit, die gewese provinsiale leier van SAVF in Limpopo.

Gloudine was in Desember met kanker gediagnoseer en is Saterdag na ‘n siekbed van twee maande oorlede. Polokwane Observer het met Marietjie gesels oor hulle vriendskap en om te hoor hoe sy haar vriendin gaan onthou.

“Ons het altyd lekker saam gekuier. Sy sou werklik uit haar pad uit gaan om mens tuis en spesiaal te laat voel,” deel sy.

Marietjie onthou Gloudine as ‘n raakvatter in besigheid en ‘n baie goeie besigheidspersoon wat goeie besluite kon neem. “Vir hierdie rede was sy suksesvol in haar eie besighede. Glou het nie daarvan gehou dat geld gemors word nie en ons moes altyd redes gee waarom ons iets nodig gehad het. Sy was ‘n baie spaarsamige persoon en het dit nie geduld dat geld onnodig spandeer word nie.”

Die feit dat sy altyd beskikbaar was, was vir Marietjie spesiaal. “Ons kon haar dag of nag skakel en sy was altyd beskikbaar om te help. Sy het uit haar pad gegaan om ons altyd by te staan. Hoe sê ‘n mens dankie vir wat sy vir ons beteken en gedoen het? Sy het altyd vir my gesê ‘geen mens is onvervangbaar nie’, maar daar sal nooit weer ‘n Gloudine wees nie. Niemand van ons sal haar ooit kan vervang nie.”

Marietjie onthou spesiale tye saam met Gloudine, soos die laaste SAVF provinsiale vergadering wat hulle in Mookgophong bygewoon het. “Dit was nog in die dae voor Covid-19 en Zoom-vergaderings. Terwyl ons terugry Polokwane toe het sy gesê ‘vandag vat ons die scenic route’. Ons het op die R101 teruggery en sy het oral gestop om vir my te wys waar sy spesiale herinneringe gehad het. Sy het vir my onder andere vertel die eerste keer toe haar eerste man haar Polokwane kom wys het, nog voor sy getroud was, hulle motor ‘n pap wiel gekry het. Langs die pad waar hulle gestaan het was ‘n veld vol sonneblomme. Hy het vir haar ‘n sonneblom gepluk en sy was baie beïndruk met hierdie sonneblom.”

Sy vertel in haar herinneringe van Gloudine staan die storie vandag baie uit aangesien sy nou besef dat Gloudine ‘n sonneblomvrou was.

“Sonneblomme neig na die lig toe omdat hulle weet dit is hulle bron van krag. ‘n Sonneblom soek altyd na die lig in die lewe. Soos die sonneblom ‘n positiewe simbool is, so was Gloudine die verpersoonliking van positiwiteit, krag, sterkte, waarheid, lojaliteit en eerlikheid. Ons by die SAVF sal sonneblomsade saam met ons dra en plant waar dit nodig is. Ons sal haar onbaatsugtige liefdesdiens wat sy gelewer het, voortdra in die toekoms,” sluit Marietjie af.

Gloudine word oorleef deur drie kinders en vyf klein kinders. Haar begrafnis sal Donderdag om (3 Maart) 13:00 vanuit die N.G. Kerk Moedergemeente plaasvind en ‘n skakel na die begrafnis sal op die SAVF Limpopo se Facebook-blad beskikbaar wees.

Lees nog herinneringe in die Polokwane Observer. 

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button